KKNK

WELKOM BY DIE OUDTSHOORN

REWOLUSIE

’n ReWOLusie wat deur hekelwerk ’n gemeenskap aanmekaarbind.

Só word die Oudtshoorn ReWOLusie beskryf. ’n Gemeenskapsprojek wat sedert die KKNK in 2019 in verskeie vorme ’n reuse-impak op gemeenskappe regoor die Suid-Kaap maak. Met meer as 80 deelnemers, verfraai hulle vlytige vingers nie net jaarliks dele van die KKNK nie, hulle maak ook ’n ruim en warm verskil in die harte van talle behoeftiges in die gemeenskap. 

’n Wolkuur vir elke kwaal by KKNK 2024

Lewensgroot houers vir ’n kuur vir elke kwaal. Groot KKNK-letters met kleurvolle wol verfraai. ’n Nuwe lewe vir 40 vaal en vergete lampskerms. En ’n wolafdak vir koelte.  

KKNK

Dit is hoe die Oudtshoorn ReWOLusie die 28ste KKNK van 23 tot 31 Maart 2024 verfraai het. Uit die bemarkingsveldtog van 2024 – ’n kuur vir elke kwaal – het ’n lewensgroot bottel vitamien drama vir heelmaak en ’n hernude lewenslus, proesstroop vir pap en onfikse lagspiere en kultuur vir gekonsentreerde inspirasie het saam met ’n paar kapsules in en om die fontein by die Absa Burgersentrum verskyn. 

KKNK

Vir al die #selfie-oomblikke het groot KKNK-letters feesgangers by die De Jager Sportsentrum se ingang tot die Feesmark verwelkom. Indrukwekkend, kleurvol en gereed om daardie feesherinneringe vas te vang. 

KKNK

’n Totaal van 40 vaal en vergete lampskerms het ’n unieke nuwe lewe gekry, oorgetrek in helder kleure en unieke style, opgehang bo die ingang tot die Prince Vintcent-gebou, die tuiste van die KKNK se visuele kunsuitstallings. 

Die oortrek van die lampskerms het die vroue ’n kans gegee om hul eie kunstalente ook ten toon te stel.

– Bets Wilkinson, ReWOLusie-deelnemer, aan Netwerk24

KKNK

Laastens is groot wolafdakke vir koelte gebrei en gehekel wat welkome ontsnapping van die son by Lucky Pakkie-teater in Baron van Reedestraat gebied het. Dié afdakke word na die KKNK verkoop om nuwe wol aan te koop, of geskenk vir liefdadigheid.  

KKNK

Tydens die fees is daar ook by die Hekelhoekie, geleë in die Netwerk24-feeskafee, flink idees en goeie patrone uitgeruil, terwyl hegte bande tussen deelnemers gevorm is. Almal was welkom om saam te brei, te hekel en te kuier. 

Brei saam

Of jy nou ’n ywerige en gesoute hekelaar is, of graag wil leer en saamkuier, moenie wag nie. Word vandag nog deel van die Oudtshoorn ReWOLusie. 

KKNK

Maak ’n skenking of donasie

Enigiemand kan by die Oudtshoorn ReWOLusie betrokke raak, selfs al kan jy nie brei nie. Die span het deurentyd wol en stopsels nodig en enige skenkings, maak nie saak hoe gering nie, dra by tot die voortbestaan van dié gemeenskapsprojek. Skenkings in die vorm van wol, stopsels, breinaalde en kontant is baie welkom. 

Skenkings van wol, of fondse om wol en penne mee aan te koop, tot jou eie stukkies brei- en hekelwerk – elkeen kan ’n bydrae maak tot dié vreugde.

– Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK

Meer inligting oor die Oudtshoorn ReWOLusie

Vir meer inligting oor die Oudtshoorn ReWOLusie, of om by dié projek betrokke te raak, kontak die KKNK of besoek die kantoor by Die Neelsie, Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn.

Vir meer inligting, kontak die KKNK:

ReWOLusie regdeur 2023

ReWOLusie het ’n woldraad regdeur die aanbod van die 27ste KKNK gehekel, wat reeds in die fees se bemarkingsveldtog sigbaar was: ’n blommerangskikking met ’n verskil. Nie net was daar ’n onverwagse samewerking tussen fotograwe en stiliste nie, maar ReWOLusie het ’n wolbom van ’n blom uit die streek vir dié kunswerk voorsien, saam met ander onverwagse elemente soos skêre, toue, beeldjies, kleipotte, tupperware, ’n haardroër en meer. 

Liza Grobler, feeskunstenaar vir 2023, het saam met 30 ReWOLusie-deelnemers ’n pragtige reuse-installasiekunswerk getiteld DROOM geskep, wat tydens die fees in Baron van Reedestraat te sien was. Hierdie installasie het die Kanna vir beste visuele kunsuitstalling ingepalm, saam met Grobler se uitstalling Inkommers, laatkommers en laatlammers. 

Hekelhoekie in die Absa Kuierkamer

Daar word beweer dat “brei die nuwe joga is” en feesgangers by die KKNK in 2023 het daagliks ’n geleentheid gehad om by die Hekelhoekie in die Absa Kuierkamer, geleë in die Feesmark, ’n paar breinaalde te gryp, saam met die ReWOLusie-span te werk en te brei en hekel dat dit klap. Items wat hier gemaak is, is geskenk aan die 67 Blankets for Nelson Mandela Day-inisiatief.

Vra maar vir Early B, Hannes van Wyk en Deon Lotz wat by die KKNK in 2023 wolwys gemaak is.

As jy nie kan brei of hekel nie, sal die ReWOLusie jou leer.

Komberse vir die winter

Komberse word gebrei wat deel vorm van die jaarlikse 67 Blankets for Nelson Mandela Day-inisiatief. In 2023 het die ReWOLusie reeds 127 komberse by ses organisasie uitgedeel, waaronder De Hoop Kleuterskool, Eljada-Kairos Skool, ACVV Tuishuis, Sonskyn Dagsorgsentrum, APD Dysselsdorp-sentrum vir gestremdhede en die Scrosoppi-susters.  

Beertjie-projek 

Die plaaslike ReWOLusie brei-en-hekel-inisiatief se vrouens uit Oudtshoorn en die omgewing het gewoeker en onder andere sagte speelgoed (teddies) vir minderbevoorregte kinders uit die area gebrei. In Desember 2022 is meer as 1,000 sagte speel – ’n rekordgetal – met behulp van die Oudtshoorn Rotariërs versprei. 

Maar waar het alles begin?

Die Oudtshoorn ReWOLusiek het oor die afgelope halwe dekade een van die KKNK se vlagskip projekte geword, maar waar het dit alles begin? 

Hoofstuk 1: Woensdag 20 Maart 2019

Oudtshoorniete is op Woensdag 20 Maart 2019 met hope opwinding gegroet. Nie net was die begin van die 25ste KKNK op dié Klein Karoo-dorp om die draai nie, maar inwoners én besoekers is verras met bome, heinings, traliewerk, selfs motors en ander voorwerpe wat oornag verfraai is met gehekelde en gebreide skeppings! Oudtshoorn se vere was behoorlik reg geskud vir dié mylpaal-fees wat die volgende dag afgeskop het. 

Die eerste Oudtshoorn ReWOLusie was voorwaar ’n fees vir die oog, met kleurvolle serpe wat om bome gedrapeer is en verskeie slagspreuke en versierings soos harte en sterre wat alles gebrei of gehekel was. Oudtshoorn se see van kleur het oornag gestalte gekry te danke aan die “woltannies” wat die strate na sononder ingevaar het met lere, toue, gom en natuurlik meters en meters brei- en hekelwerk.

Plaaslike kunstenaar Madeleine Miles was die meesterbrein agter dié konsep. “Die idee was om die gemeenskap by die KKNK te betrek.”

Hoofstuk 2: Van Covid-19-inperking tot Karen Zoid-veiling 

Ondanks die feit dat Covid-19 in 2020 die kansellasie van die KKNK tot gevolg gehad het, het die Oudtshoorn ReWOLusie die dorp steeds verfraai en terselfdertyd ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap gemaak. Talle Oudtshoorniete het kragte saamgespan en komberse gehekel en geskenk aan behoeftiges in die omgewing. Bykans 2 000 komberse is aan organisasies en behoeftiges in Oudtshoorn en omstreke uitgedeel, waaronder Helen Bellinghanhof, Coronation Memorial, Eljada Nasorg, ACVV De Rust, die Oudtshoorn-hospitaal, die Toekomsrus-kliniek en kerke op die dorp. Projekte is ook in nabygeleë plaasgemeenskappe geloods om mense te leer hekel en brei.   

Karen Zoid, wat in die grendeltyd verskeie suksesvolle veilings aangebied het, het op Maandag 26 en Dinsdag 27 Oktober 2020 vyf van die Oudtshoorn ReWOLusie se komberse op haar platforms opgeveil. Die opbrengs van die veiling is vir liefdadigheidsprojekte gebruik.

Hoofstuk 3: Oudtshoorn ReWOLusie nou ’n bekroonde inisiatief 

Die Oudtshoorn ReWOLusie is tydens die 10de kykNET Fiëstas in 2020 met die Blou Fiësta vir uitsonderlike bydrae en innovasie bekroon. 

“Die bolle en bolle wol se kunswerke, wat die strate en lamppale en enige plek waar jy gekyk het, versier het, het ’n unieke en homogene identiteit aan die strate van Oudtshoorn gegee tydens die KKNK. Dit het boekdele gespreek oor hoe gemeenskappe kan saamwerk om kuns vir ’n goeie doel te skep.” – Johan van Lill, sameroeper van die Fiëstapaneel

Hoofstuk 4: Nasionale vlerke vir dié projek 

Opwindende uitvloeisels van die Oudtshoorn ReWOLusie het in 2021 die lig gesien. Die nasionale hekel-saam-veldtog het aan dié projek ’n voetspoor regoor Suid-Afrika, en selfs oorsee, gegee. Oudtshoorniet Bets Wilkinson het ’n kombers-patroon vir hekelaars regoor die land ontwerp. ’n Stukkie van dié patroon is oor ’n tydperk van 13 weke op die KKNK se webblad vrygestel, saam met ’n instruksievideo. Die hele land kon saam hekel en brei, om meer komberse as ooit vantevore aan behoeftiges in die koue wintermaande te skenk. Sewe van hierdie pragtige komberse is op Sondag 5 September 2021 op die KKNK se Facebook-blad opgeveil.

Meer as 1 500 mense uit Suid-Afrika en so vêr as Kanada het aan die eerste hekel-saam-veldtog deelgeneem.

Hoofstuk 5: Van Oudtshoorn se strate tot koffietafelboek

Absa, hoofborg van die KKNK, het die stories van die vrouens wat by die Oudtshoorn ReWOLusie betrokke is, vasgevang in ’n pragtige, beperkte-uitgawe koffietafelboek. Hulle inspirerende stories, werke en patrone is hierin ten toon gestel. Hierdie pragtige versamelstuk kan bestel word by die KKNK. Dit kan landswyd koerier word.  

“Absa se vennootskap met die KKNK en die gemeenskap, deur die Oudtshoorn ReWOLusie-projek, bemagtig vroue en ontwikkel hulle vaardighede deur hekel- en breiwerk.” – David Wingfield, Absa se hoof van bemarking

Hoofstuk 6: Oudtshoorn ReWOLusie en Oudtshoorn Rotariërs span kragte saam

Die Oudtshoorn ReWOLusie en Oudtshoorn Rotariërs het in Desember 2021 vir die eerste keer kragte saamgespan om ’n verskil in die lewens van kleuters uit die Oudtshoorn-gemeenskap te maak. Die Oudtshoorn Rotariërs Krismisboks-projek poog jaarliks om ’n glimlag op die gesiggies van kleuters in en om Oudtshoorn te sit. Vir die doel, brei en hekel die Oudtshoorn ReWOLusie regdeur die jaar om ’n sagte speelding in elke Krismisboks by te sit.