fbpx

Feesgangers is in 2019 met die aanvang van die 25ste KKNK verras met breiwerk wat Oudtshoorn se strate oornag verfraai het. Van bome tot pilare, motors en ander voorwerpe is met Oudtshoorniete se kreatiewe hekelwerk mooigemaak as deel van ’n nuwe dorpsinisiatief, ReWOLusie.

Dié projek het Oudtshoorn weer in 2020 verfraai, ondanks die feit dat die KKNK weens die Covid-19-pandemie gekanselleer is. 

ReWOLusie is ’n gemeenskapsinisiatief en breinkind van Madeleine Miles, met ondersteuning van die KKNK. Dit bring Oudtshoorniete byeen met ’n gemeenskaplike projek waaraan almal kan deelneem en lewer ook ’n bydrae tot die jaarlikse fees. Individue, besighede, skole, aftree-oorde en kerke word by die gemeenskapsprojek betrek. Ieder en elk kan betrokke raak. Die ReWOLusie-span besoek ook skole en plaasgemeenskappe om mense te leer hekel en brei. 

Komberse is deur die winter van 2020 uitgedeel aan inwoners van Helen Bellinghanhof, Coronation Memorial, Eljada Nasorg, ACVV De Rust en individue waar die nood groot is. Die Oudts­hoorn-hospitaal en Toekomsrus-kliniek het komberse ontvang om aan mammas met nuwe babas uit te deel en daar is verder gehelp om nood by kerke en in die gemeenskap te identifiseer. Komberse is só ook in Dassieweg uitgedeel. 

Van die komberse wat vir die ReWOLusie gehekel en gebrei is, is uitgehou en vir ruilhandel beskikbaar gestel. Inwoners kon twee of drie warm winterkomberse ruil vir ’n gehekelde kombers. Sodoende is daar amper drie keer meer komberse ingesamel. Van hierdie warm komberse is aan die seuns by Huis Triomf en die Oudtshoorn Vaardigheidskool uitgedeel.

Tydens die 10de kykNET Fiëstas ontvang die ReWOLusie-projek ’n spesiale prys vir innovasie.

 

WAAR KOM DIE WOL EN PENNE VANDAAN?

Skenkings van verskeie organisasies, ondernemings en individue maak die wol en penne aan almal wat wil deelneem beskikbaar.

WAT WORD NA DIE FEES VAN DIE BREIWERK?

Die projek se breiwerk word aan behoeftige kinders en persone geskenk vir die koue winters van Oudtshoorn.

 

RAAK BETROKKE

Daar is verskeie maniere waarop jy, of jou besigheid betrokke kan word:

Skenk wol of maak ’n donasie vir die aankoop van wol

Brei self en stuur vir ons jou breiwerk


Word deel van die ReWOLusie! Kontak Daleen Witbooi by 044 203 8600 vir meer inligting, stuur ’n e-pos na info@kunste.org.za, of besoek www.facebook.com/rewolusie.

Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google