KKNK
’n KKNK-projek, ondersteun deur die Jannie Mouton-stigting, Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, die Wes-Kaapse regering en die Oudtshoorn-munisipaliteit

MET kernspan van Tiffany Saterdaght, Theo (Oom Japsnoet) Witbooi, Colin Meyer, Diano October, Melikhaya Blou, Charissa Essau, Jermaine Bruintjies, Chantell Phillipus, Zietske Saaiman, Shandré Harris, Ferron Booysen en inwoners van Oudtshoorn FASILITEERDERS Neil Coppen en Vaughn Sadie

Multidissiplinêre gemeenskapsprogram

Karoo Kaarte is ’n grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram wat sedert 2021 op Oudtshoorn lewe kry.

Dié veelbekroonde gemeenskapsprojek se kern draai rondom Oudtshoorn-stories wat nie voorheen vertel of gedokumenteer is nie. Stories oor persoonlike ruimtes, herinneringe uit kinderdae en tradisionele kennis van dié Klein Karoo-dorp en sy mense. ’n Lewende argief word deur alle deelnemers aan die opwindende projek saamgestel en ’n platform word geskep wat plaaslike talent na die voorgrond bring, om die nasionale kollig te verbreed en kunstenaars uit eie bodem in te sluit.

Karoo Kaarte se sukses lê daarin dat dit bestuur word deur mense wie se harte en arms oopstaan om almal van die gemeenskap wat wil deelneem te betrek.” – Diane de Beer, gerekende resensent

Teater en visuele kuns word as kreatiewe prosesse ingespan, ondersteun deur Karoo Kaarte se navorsing en argief, om ’n spesiale program vir die KKNK saam te stel. Hierdie inhoud het oor die afgelope twee feeste harte gesteel met herinneringe, drome en kinderspeletjies eie aan Oudtshoorn-inwoners.

Op Oudtshoorn verwys “om kaarte te sny” na gesels en die vertel van ernstige en lighartige stories. Die naam Karoo Kaarte sinspeel op dié dubbele betekenis van kaarte in die Oudtshoorn-streekstaal.

Karoo Kaarte is reeds talle kere bekroon, onder meer met die BASA IDC Community Development-prys (2023), die Wes-Kaapse kuns-en-kultuur-prys vir mees innoverende kunstefees (2023) en die KKNK Herrie-prys vir innovasie of grensverskuiwende werk (2023 & 2022). Karoo Kaarte is benoem vir vier Pendorings (2023) en dié projek se teaterproduksies, Die Swartmerrie (2024) Droomkraan Kronieke (2023) en Op hierie dag (2022), is vir meer as tien KKNK Kannas en vyf kykNET Fiëstas benoem. Die ensemble van Droomkraan Kronieke is met die Woordtrofee vir beste ensemble by die Toyota US Woordfees in 2023 bekroon.

Karoo Kaarte, saam met talle inwoners wat aan die navorsing deelgeneem het, betrek Oudtshoorn-gebaseerde visuele kunstenaars, digters, skrywers, kunstenaars, inheemse kennisdraers, musikante, leerders, onderwysers en aktiviste om vir die derde jaar inhoud dwarsdeur die fees en oral op die dorp aan te bied vir ’n herinterpretasie van die afgelope jare se navorsing.

’n Program is in 2024 aangebied wat twee kunsuitstallings, ’n grafiese roman, ’n muurskildery, staptoere met begeleiding van die Karoo Kaarte-app en ’n splinternuwe plekspesifieke teaterproduksie, Die Swartmerrie, saans by die eens fabelagtige, maar nou vervalle Oudtshoornspoorwegstasie ingesluit het.

“Karoo Kaarte is een van die KKNK se droomprojekte en groei jaarliks in iets meer indrukwekkend as toe dit aanvanklik begin het. Hoe kan so ’n projek nie wen as dit die onontwikkelde kunstalent van die voorheen benadeelde ontwikkel, deur ’n program te implementeer wat diegene bemagtig wat suksesvol in die kunste wil wees. Hierdie gemeenskap word deurlopend versterk. Dit is ’n wonderlike belegging in die toekoms van Oudtshoorn (en hopelik volg ander regoor die land).” – Diane de Beer, gerekende resensent

KKNK
KKNK
KKNK