Verbeel jou duisende feesgangers van regoor die land koop jóú spesialiteit handgemaakte skeppings, unieke kunswerke, geskenke, smaaklike happies, of ander mooi en kreatiewe produkte. Dit is presies wat by die 31ste KKNK op Oudtshoorn kan gebeur! Alle handelaars, kunsvlyt-entoesiaste, entrepreneurs, bakkers, brouers en ander kundige skeppers word genooi om hulle produkte op Oudtshoorn te kom verkoop. Hier is ook hope geleenthede vir handelsmerke om pasgemaakte aktiverings te doen.
Sluitingsdatum: Maandag 22 Februarie 2027
Keuring van stalletjies word deurlopend gedoen en begin nie eers na die sluitingsdatum van 22 Februarie 2027 nie.
1. Bewys van betaling van jou administrasiefooi
2. ’n Afskrif van jou ID of werkspermit
3. Foto’s of ander visuele materiaal van jou produkte
’n Verskeidenheid opsies vir algemene stalletjies en geleenthede om handel te dryf is beskikbaar. Stalletjies word versprei regoor die verskeie fees-areas.
Algemene stalletjies: Handgemaakte produkte, klerasie, skoene, kuns, juweliersware ens.
Kosstalletjies: Voorbereide kos (wegneemetes) en/of ongeseëlde voedselprodukte (biltong, roomys ens.).
Deli-stalletjies: Vooraf voorbereide kos (lekkers, koekies, droëvrugte ens.).
Aktiverings: Geleenthede en spasies vir handelsmerk- of produkervarings.
Indien jy enige navrae het, gesels gerus met Daventia Kennedy by 044 203 8600, stuur ’n e-pos na daventia@kunste.org.za of ’n WhatsApp na 071 182 6533.
Ons sien daarna uit om jou aansoek te ontvang!
Feesdatums – Die fees skep ’n geleentheid om vir ses dae handel te dryf tydens die Maart-skoolvakansie en oor die begin van Paasnaweek.
Diverse Gehoor – KKNK se feesgangers is divers en entoesiastiese ondersteuners van die kunste, met duisende besoekers wat in die Klein Karoo verwag word om die kunste te ervaar en met vriende te kuier.
Verskeidenheid en opsies – Verskeie keuses van stalletjies is beskikbaar by die fees, van groot opelug-uitstallings tot kleiner en meer intieme spasies in die nuwe KKNK-winkel – hierdie opsies skep dinamiese geleenthede om handel te dryf.
Vertoon jou handewerk – Ons platforms bied ’n geleentheid aan alle handelaars – van bekwame ambagsmanne, bobaas bakkers tot enige ander entrepreneur – om hulle handewerk aan ons feesgangers van regoor die land te vertoon.
Bemarkingsgeleenthede – Van sosiale media tot mediaverklarings en onderhoude, die KKNK skep ’n wye verskeidenheid bemarkingsgeleenthede en -kanale vir stalletjiehouers om te gebruik en hulle deelname by die fees te bemark aan ’n nasionale én internasionale gehoor.
Indien jy produkte by die KKNK wil verkoop, maar nie tydens die fees op Oudtshoorn kan wees nie, is die KKNK-winkel die regte opsie vir jou.
| Terrein | Tipe stalletjie | *Slegs geskik vir | Binne Feesterrein? | Elektriese kragpunt | Prys (BTW in) | Handelsure | Grootte |
| Feesmark | Tent Prima A, B, C, D | Algemeen Vooraf voorbereide kosse | Ja | Ja | R 6,825 | 10:00 – 18:00 | Tussen 2,8 m en 3,1 m |
| Feesmark | Tent Algemeen A, B, C, D | Algemeen Vooraf voorbereide kosse | Ja | Ja | R 5,775 | 10:00 – 18:00 | Tussen 2,8 m en 3,1 m |
| Feesmark | Buite stalletjies DM | Algemeen Vooraf voorbereide kosse | Ja | Ja | R 5,250 | 10:00 – 18:00 | 4×4 |
| Feesmark | Buite Algemeen SS | Kos | Ja | Ja | R 7,875 | 10:00 – 22:00 | 3×3 |
| Feesmark | Buite Algemeen | Kos | Ja | Ja | R 13,125 | 10:00 – 22:00 | 5×5 |
| Feesmark | Buite Stalletjies DG1 – DG8 | Algemeen Vooraf-voorbereide kos Voertuie, buitelug ens. | Ja | Ja | R 7,500 | 10:00 – 18:00 | 7×7 |