Klein Karoo Klassique span saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes vir ‘n eksklusiewe aanlyn Adventkonsert

Die musiek speel voort – ondanks sosiale distansiëring!

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes (SANJO) se jaarlikse Adventskonsert word vanjaar aanlyn gehou – en vir die eerste keer aangebied in vennootskap met Klein Karoo Klassique en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).

Kknk | Klein Karoo Nasionale Kunstefees | Oudtshoorn | Suid-Afrika

SANJO gaan ’n program van barokmusiek uitvoer wat net reg is vir dié tyd van die jaar – en jy kan dit in die gerief van jou eie huis geniet.

“Dis ’n voorreg om hoegenaamd te kan optree in dié tyd,” se Sophia Welz, besturende direkteur van SANJO. “Die konsert is vir ons ’n baken van hoop sowel as ’n toonvenster van ons trots op ons land, ons jong musici en die kunste.” 

Elke kaartjie wat verkoop word, sal help bydra dat SANJO kan voortgaan met hul wonderlike werk, sê Hugo Theart, die KKNK se artistieke direkteur. “Soos baie ander organisasies in die uitvoerende kunste was 2020 ook vir SANJO ’n moeilike jaar. Ons glo dis belangrik om jong talent te ondersteun.”

Die werke wat uitgevoer gaan word tydens die konsert van 45 minute is Gaudete (onbekend), Nun komm, der Heiden Heiland (JS Bach), Simfonie uit die Kantate no.29 (JS Bach) en Simfonie V uit Six Symphonies en quatuor, contenant les plus beaux Noëls Francois et étrangers (Michel Corrette).

Vir die eerste keer in 57 jaar sal dit nie die volle orkes wees wat speel nie; ’n klein ensemble-groep sal die uitvoering lewer. Hulle is Gilah Kellner (viool), Jason Oppelt (viool), Kamohelo Moshoaliba (altviool), Vaughan McLea (tjello), Kyle Smith (kontrabas) en John Reid Coulter (klavesimbel).

Kknk | Klein Karoo Nasionale Kunstefees | Oudtshoorn | Suid-Afrika

Van links na regs Kamohelo Moshoaliba (altviool), Gilah Kellner (viool), Vaughan McLea (tjello), Kyle Smith (kontrabas) en Jason Oppelt (viool). Afwesig in die foto: John Reid Coulter (klavesimbel).

Die konsert word moontlik gemaak deur die milde steun van die Samro-stigting, die Vriende van Orkesmusiek Kaapstad en die Academy of Sound Engineering.

Die konsert is beskikbaar om te kyk vanaf 18:00 op 20 Desember tot 31 Desember om middernag.

Kaartjies is beskikbaar by Quicket (quicket.co.za) en kos R80 per gewone kaartjie en R50 vir studente en pensioenarisse. Wanneer jy die kaartjie koop, ontvang jy ’n skakel wat jy kan gebruik om die konsert te stroom op die toestel van jou keuse.

Vir nog inligting oor die KKNK, Klein Karoo Klassique en ander projekte besoek kknk.co.za. Besoek sanyo.org.za vir meer inligting oor die stigting.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on email
Email