KKNK 2025 oortref verwagtinge

Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, het Sondag 6 April tot ’n einde gekom en verwagtinge oortref.

Facebook
WhatsApp
Twitter
Email

Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, het Sondag 6 April tot ’n einde gekom en verwagtinge oortref.

“Ons is dankbaar dat bywoning uitstekend was – in die Feesmark én teaters, asook by areas en aktiwiteite wat gratis in Baron van Reedestraat aangebied is. Wanneer daar na die afgelope jare se statistieke gekyk word, staan vanjaar uit en vergelyk met die beste van die pre-Covid-19-feeste in die onlangse dekade,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.

“Terugvoer van gehore is ook dat die artistieke standaard van produksies uitstekend was en die program ’n ware weerspieëling was van ons belofte, ‘al die ietse, vir elke iemand’. Dit blyk dat die strategie wat ons oor die afgelope jare na die Covid-19-pandemie volg, werk en vrugte afwerp.

“Ons is dankbaar en trots op wat hierdie jaar vermag is en glo dat die fondament gelê is vir ’n volhoubare KKNK vir komende jare. Beplanning en voorbereiding vir die 30ste viering van dié Afrikaanse moederfees het reeds begin en ons sien daarna uit om almal van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April op Oudtshoorn te verwelkom,” sluit Theart af.

Vanjaar se KKNK, geborg deur Absa, is van 1 tot 6 April op Oudtshoorn aangebied, met ’n spesiale openingskonsert en aandmark op 31 Maart. KKNK 2025 is geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.