Die KKNK se bekroonde Teksmark word binnekort vir die tweede keer op Oudtshoorn aangebied.
Teksmark Oudtshoorn is ’n teks-ontwikkelingsprojek wat ’n platform bied waar nuwe Suid-Afrikaanse stories aan belangstellendes in die teaterbedryf voorgelê word. Die projek word aangebied deur die KKNK en NATi, met ondersteuning van die Baxter-teatersentrum, UJ Kuns & Kultuur, die Jannie Mouton Stigting en die Het Jan Marais Nationale Fonds.
“Ons het vanjaar ’n rekordgetal aansoeke vir Teksmark ontvang, van sowel opkomende as gevestigde skrywers. Al die tekste is anoniem deur ’n paneel gelees en beoordeel, en dit is besonders dat verskeie van die tekste wat uiteindelik gekies is, deur skrywers van Oudtshoorn en elders in die Suid-Kaap geskryf is. Ons is juis daarom opgewonde om Teksmark vir ’n tweede keer op Oudtshoorn aan te bied en 12 nuwe, uiteenlopende stories in die Klein Karoo bekend te stel. Dit is ’n voorreg om ’n platform te bied waar nuwe stemme gehoor kan word en om oorspronklike Suid-Afrikaanse stories ’n tree nader aan die verhoog te bring,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.
Teksmark Oudtshoorn word tydens drie sessies op Vrydag 6 en Saterdag 7 November 2026 by Die Neelsie-teater op Oudtshoorn aangebied. ’n Spesiale fokus word hierdie jaar op kabaret, satire en komedie geplaas.
Die skep van nuwe Suid-Afrikaanse teatertekste word deur Teksmark Oudtshoorn aangemoedig en hier word skrywers en rolspelers in die teaterbedryf met mekaar verbind, vir moontlike belegging en verdere ontwikkeling van teksidees.
Sessie 1 word op Vrydag 6 November van 10:00 tot 13:00 aangebied met Die chef deur Ben Pretorius, Vrot – Vrug deur Chrisma Theron, Jou waitress is nou hier deur Zoë Beetge & Lenay Rossouw en Gen X Konvensie: Terug na die basics deur Shandré Bruintjies.
Sessie 2 word op Vrydag 6 November van 14:00 tot 17:00 aangebied met Kruis wat ek dra deur Danelle Titus, Die tamatiekomplot deur Morné Malan, Tussen twee stiltes deur Kelvin Piedt en Terminale helderheid deur Almero Welgemoed.
Teksmark Oudtshoorn sluit af met sessie 3 op Saterdag 7 November van 10:00 tot 13:00 met Mengelmoes deur Ludwig Eon Siwa, Wat maak tyd deur Jaydin Abrahams, Olifantshoek Kerkkoor deur Stephan Henrico en Klip en bloed deur Wihan Esterhuyse.
Professionele verteenwoordigers word genooi na Teksmark Oudtshoorn om die teksidees direk met skrywers te bespreek. Skrywers kry by Teksmark Oudtshoorn ’n geleentheid om oor hul nuwe teksidee te gesels en daarna ’n kort uittreksel as leesteater aan te bied. Uittreksels word onder leiding van regisseurs waaronder Waldemar Schultz, Ira Blanckenberg, Tiffany Witbooi en Theo Witbooi, aangebied, met verskeie skrywers wat hul eie regie behartig.
Op die verhoog vir die leesteater-uittreksels is Waldemar Schultz, Ira Blanckenberg, Lida Botha, Cole Wessels, Janion Kennedy, Theo Witbooi, Dhania Schultz, Maritza Filander, Chantell Phillipus, Mirinda Ntantiso en vele ander te sien.
Bywoning van die sessies is gratis, maar spasie in Die Neelsie-teater is beperk. Belangstellendes word aangemoedig om vooraf aanlyn te registreer om enige van die sessies by te woon. Alle belangstellendes word genooi om deel te wees van die eerste saadjies wat gesaai word vir die ontwikkeling van nuwe Suid-Afrikaanse teaterproduksies.



Die 11de Teksmark is in September 2026 by die Baxter-teater in Kaapstad aangebied, met die derde Teksmark Joburg wat in Oktober by UJ Kuns & Kultuur in Johannesburg aangebied is. In totaal is 19 nuwe teksidees hier voorgelê en meer inligting oor die skrywers en tekste is aanlyn beskikbaar.
Sedert die ontstaan van Teksmark is meer as 200 teks-idees deur meer as 180 skrywers vir verdere ontwikkeling voorgelê, waarvan meer as 50 tekste tot volskaalse produksies ontwikkel is. Hierdie produksies het ook reeds hope pryse ontvang.
Vir meer inligting en die volledige program vir Teksmark Oudtshoorn 2026 besoek kknk.co.za, of kontak die KKNK-kantoor via e-pos by info@kunste.org.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.