Die tweede Teksmark Joburg word op Donderdag 24 en Vrydag 25 Oktober by die Universiteit van Johannesburg (UJ) aangebied.
“Teksmark is vir die eerste aantal jare slegs by die Baxter in Kaapstad aangebied, maar dit is baie opwindend dat ons vir die tweede keer ook nou die skrywersprojek in Johannesburg kan aanbied. Dit is ’n wonderlike geleentheid om hierdie konsep uit te brei. Ons is dankbaar om dié projek by ons vennoot in Gauteng, UJ se Kuns- en kultuurdepartement, aan te bied en sodoende ook ’n geleentheid aan meer skrywers te gee.”
So sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK. Teksmark is ’n bekroonde projek van die KKNK, aangebied met die ondersteuning van NATi, die Baxter-teatersentrum, die ATKV, Het Jan Marais Nationale Fonds en vanjaar ook UJ.
“Teksmark se kern gaan oor samewerking en ons is baie dankbaar vir die vennote van dié projek, waaronder NATi en die Baxter-teatersentrum wat die projek reeds uit die staanspoor ondersteun. Hulle betrokkenheid moedig skrywers aan om deur nuwe tekste, Suid-Afrikaanse stories te vertel. Die projek skep ook ’n informele platform vir gesprek en samesyn in die bedryf. En dit maak die projek baie spesiaal”, sê Theart.
Teksmark Joburg vind op Donderdag 24 Oktober en Vrydag 25 Oktober plaas by die Universiteit van Johannesburg se Keorapetse William Kgositsile Teater op die Kingsway Kampus. Bywoning is gratis en belangstellendes kan aanlyn op die KKNK se webblad registreer vir sessies wat bygewoon word.
Uittreksels uit 15 nuwe tekste, deur 15 skrywers, is by Teksmark Joburg te sien. Dié tekste en hulle skrywers is: Eendag deur Ethan Bester; eMalahleni: The Black Lung deur Qondiswa James; Julie Columbus deur Herschelle Benjamin; Mme We! deur Sibahle Mabaso; Poster Boys deur Ter Hollmann; Psycho-Therapy deur Stephanie Jenkins; Saam sweer deur Braam van der Vyver; Sasikhe Sabhabha: We Once Flew deur Thozama Busakwe; Sluk ’n pil deur Johann Smith; Spectrum deur Rondo Mpiti-Spies; Tall Ships deur Garth Mason; Terpentyn deur Karla Cloete; Threads of Love and Liberation deur Imaan Latif; Thula Mntanam deur Mbasa Tsetsana en Tita Ge Ti Aboxan “Ek is my voorvaders”: Die Khoisan-storie deur Obed de Koker.
Teksmark Joburg skep ’n platform vir beide gevestigde en opkomende skrywers om hul teks-idees aan potensiële beleggers voor te lê. Teksmark Joburg bied aan elke skrywer die geleentheid om oor hul teks-idee te gesels, waarna ’n leesteater-uittreksel van tien minute opgevoer word. Daarna word die vloer oopgestel vir die gehoor om vrae te vra, vir verdere bespreking van die teks tussen die skrywer, betrokkenes en die gehoor.
Leesteater-uittreksels word deur meer as 30 spelers opgevoer, waaronder Amanda Strydom, Obed de Koker, Cara Meiring, Peter Terry, Lara Lourens, Lunga Khuhlane en Sibusiso Mkhize. ’n Totaal van 15 regisseurs is betrokke, waaronder Kaz McFadden, Jade Bowers, Ilana Cilliers, Èmil Haarhoff, Barend Mynhardt, Qondiswa James, Renos Spanoudes en Marié-Heleen Coetzee.
Uit die meer as 100 tekste wat vanjaar vir oorweging ingedien is, is 15 tekste in September by die Baxter-teatersentrum voorgelê.
Vir meer inligting oor Teksmark Joburg kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, telefonies by 044 203 8600 of via WhatsApp by 065 285 2337 of besoek www.kknk.co.za.
Die 29ste KKNK word van Dinsdag 1 tot Sondag 6 April 2025 op Oudtshoorn aangebied. Vir meer inligting oor dié fees, hou die KKNK se sosiale media dop, besoek www.kknk.co.za of kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Foto: Verskeie tonele uit die eerste Teksmark Joburg in 2023. © Reinhardt Bodenstein