Die span agter die KKNK se veelbekroonde Karoo Kaarte-projek doen ’n spesiale beroep op alle Oudtshoorniete om hulle herinneringe of ander interessanthede oor die dorp se treinstasie met dié span te deel.
Hierdie staaltjies sluit onder andere spesiale herinneringe van treinry as kind, ervarings en kennis van mense wat by die treinstasie gewerk het, of enige ander inligting in. Karoo Kaarte se navorsingspan sien daarna uit om so veel as moontlik stories van hierdie tyd uit Oudtshoorn se geskiedenis te versamel. Uiteenlopende perspektiewe word verwelkom en enigiemand kan deelneem.
Ná die sukses van Karoo Kaarte se aangrypende teaterproduksies Droomkraan Kronieke (2023) en Op hierie dag (2022) verlaat die teaterspan vanjaar die tradisionele teaterruimtes en skep Die Swartmerrie, ’n splinternuwe plekspesifieke produksie gesentreer rondom die eens fabelagtige, maar nou vervalle Oudtshoorn-spoorweg. Dit is ’n surrealistiese en poëtiese staptoer wat die gehoor teen skemertyd op reis neem langs Oudtshoorn se treinspore, waar ’n reeks verrassende optredes wag. Plaaslike kunstenaars betrokke sluit in Theo Witbooi, Janion Kennedy, Chantell Phillipus, Jermaine Bruintjies en Melikhaya Blou, met teks en regie deur Tiffany Saterdaght en Neil Coppen.
Karoo Kaarte is ’n innoverende multidissiplinêre kunsteprogram wat sedert 2021 op Oudtshoorn lewe kry. “Karoo Kaarte se sukses lê daarin dat dit bestuur word deur mense wie se harte en arms oopstaan om almal van die gemeenskap wat wil deelneem te betrek”, het Diane de Beer, gerekende resensent, na afloop van die KKNK in 2023 gesê.
Dié veelbekroonde gemeenskapsprojek se kern draai rondom Oudtshoorn-stories wat nie voorheen vertel of gedokumenteer is nie. Stories oor persoonlike ruimtes, herinneringe uit kinderdae en tradisionele kennis van dié Klein Karoo-dorp en sy mense. ’n Lewende argief word deur alle deelnemers aan die opwindende projek saamgestel en ’n platform word geskep wat plaaslike talent na die voorgrond bring, om die nasionale kollig te verbreed en kunstenaars uit eie bodem in te sluit.
Teater en visuele kuns word as kreatiewe prosesse ingespan, ondersteun deur Karoo Kaarte se navorsing en argief, om ’n spesiale program vir die KKNK saam te stel. Hierdie inhoud het oor die afgelope twee feeste harte gesteel met herinneringe, drome en kinderspeletjies eie aan Oudtshoorn-inwoners. Addisioneel tot Die Swartmerrie, bied die span in 2024 ook twee uitstallings, ’n grafiese roman, ’n muurskildery en staptoere met behulp van die Karoo Kaarte-app aan.
Karoo Kaarte is reeds talle kere bekroon, onder meer met die BASA IDC Community Development-prys (2023), die Wes-Kaapse kuns-en-kultuur-prys vir mees innoverende kunstefees (2023) en die KKNK Herrie-prys vir innovasie of grensverskuiwende werk (2023 & 2022). Karoo Kaarte is benoem vir vier Pendorings (2023) en dié projek se teaterproduksies, Droomkraan Kronieke (2023) en Op hierie dag (2022), is vir meer as tien KKNK Kannas en vyf kykNET Fiëstas benoem. Die ensemble van Droomkraan Kronieke is met die Woordtrofee vir beste ensemble by die Toyota US Woordfees in 2023 bekroon.
Karoo Kaarte is ’n KKNK-projek, ondersteun deur die Jannie Mouton-stigting, Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Absa, die Wes-Kaapse regering en die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Deel gerus jou herinneringe oor Oudtshoorn se treine en treinstasie vir Karoo Kaarte se projekte en argief voor Vrydag 23 Februarie met Tiffany Saterdaght per e-pos by tiffany@kunste.org.za of stuur ’n WhatsApp na 062 425 6165. Deelnemers is welkom om ’n stemnota (voice note) te stuur, of enige geskrewe bydraes is ook welkom.
Die 28ste KKNK word van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart op Oudtshoorn aangebied. Die volledige feesprogram is aanlyn beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is beskikbaar by Webtickets. Vir meer inligting, hou die KKNK se sosiale media dop, besoek die webblad of kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Foto: Oudtshoorniet Theo Witbooi is te sien in Karoo Kaarte se plekspesifieke teaterervaring, Die Swartmerrie by die 28ste KKNK. © Ryan Dammert