Kunste Onbeperk kondig nuwe voorsitter aan

Christo van der Rheede is die nuwe voorsitter van Kunste Onbeperk se direksie.

Facebook
WhatsApp
Twitter
Email

Christo van der Rheede is die nuwe voorsitter van Kunste Onbeperk se direksie.

Dié aankondiging is Vrydag 15 November by Kunste Onbeperk se 31ste Algemene Jaarvergadering (AJV), deur die uittredende voorsitter, Crispin Sonn, in Die Neelsie op Oudtshoorn gemaak. Olga Wyngaard is as visevoorsitter aangekondig.

Beide Sonn en Ismail Mahomed se termyne het tydens die AJV verstryk.

Charlene Lackay, bekend vir haar werk in die media- en kreatiewe-industrie en tans werksaam in kommunikasie en korporatiewe volhoubaarheid en Cristal Peterson, ’n boorling van Mosselbaai en bemarkingsdirekteur by die Universiteit Stellenbosch met ’n passie vir die bevordering van die kunste in veral hoër onderwys, het in September 2024 by die direksie aangesluit. Johan Allers, wat sedert Augustus 2024 as die uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit dien, is soos vorige burgemeesters, ex-officio-verteenwoordiger namens die Oudtshoorn-gemeenskap op die direksie.

Van der Rheede is tans uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting en was van Oktober 2020 tot September 2023 die uitvoerende hoof van Agri SA, nadat hy in 2015 as adjunkdirekteur hier aangestel is. Hy is sedert Oktober 2023 die adjunkprofessor van die Universiteit van die Vrystaat se besigheidskool, dien op die direksie van die ATKV en is ’n voormalige skoolhoof en onderwyser. Van der Rheede dien sedert November 2022 op die direksie van Kunste Onbeperk.

“Dit is ’n besondere voorreg om as voorsitter aangewys te word. Na jare se betrokkenheid, eers as komiteelid, later as lid van die direksie en nou as voorsitter, sien ek daarna uit om voort te bou op die ongelooflike nalatenskap van my voorganger, Crispin Sonn, uittredende direksie-lede en die personeel, onder die bekwame leiding van Hugo Theart,” sê Van der Rheede.

Hy sê verder dat die KKNK nog altyd vir hom baie meer as net ’n kunstefees is. “Dit is die somtotaal van kunssinnigheid, kreatiwiteit, artistieke uitmuntendheid, estetika, konstruktiewe debat, inklusiewe ekonomiese- en mense-ontwikkeling, welvaart-skepping, nasiebou en plesierige samesyn. Ons is dankbaar teenoor die inwoners van Oudtshoorn wat ons toelaat om die fees jaarliks op die dorp te hou. Ons opregte waardering aan alle liefhebbers van die kunste wat die fees jaarliks besoek en al die borge wat die fees mildelik ondersteun. Dit is julle fees. Help ons om nuwe geleent-hede te ontsluit, die fees volhoubaar te bedryf en om Suid-Afrika in sy diversiteit te verenig – deur middel van die skeppende kunste in Afrikaans,” sluit hy af.

Sonn het tydens sy uittrede gesê hy is dankbaar vir dit wat hulle as direksie oor die afgelope sewe jaar van sy termyn vermag het, asook vir die mense wat hy oor dié tydperk ontmoet het. “Ek weet dat Christo en sy nuwe direksie die KKNK en Kunste Onbeperk se projekte na nuwe hoogtes gaan neem. Oor die afgelope sewe jaar het ek baie van Hugo en sy kollegas geleer en ons het met die direksie saamgewerk om prosesse in plek te sit wat die masjien net beter laat werk. Die direksie staan hulle rolle vol en tree in om moeilike besluite te neem soos en wanneer dit nodig is.”

“Baie dankie aan ál die gehore wat die KKNK, Klein Karoo Klassique, Teksmark én al ons projekte ondersteun. Julle genot is vir ons genoeg vergoeding. Verder, baie dankie ook aan almal wat my ondersteun het. Ek groet met die wete dat Kunste Onbeperk in goeie hande en harte is,” sluit hy af.

Die direksie van Kunste Onbeperk vir die komende termyn is: Christo van der Rheede (voorsitter), Olga Wyngaard (visevoorsitter), Charlene Lackay, Cristal Peterson, Johan Allers en Denver Moses (verteenwoordiger van die Wes-Kaapse regering), Theresa Olivier (verteenwoordiger van Media24), Mariné van Brakel (onafhanklike nie-uitvoerende direkteur) en Hugo Theart (uitvoerende hoof en artistieke uitvoerende direkteur).

Kunste Onbeperk is ’n nie-winsgewende organisasie wat die jaarlikse KKNK en Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn aanbied, asook sedert 2021 ’n multidissiplinêre gemeenskapsprogram, Karoo Kaarte. Ander kunste-gedrewe projekte soos Teksmark word ook aangebied en vele teaterproduksies word vir nasionale speelvakke vervaardig.

Van der Rheede is die agtste voorsitter van Kunste Onbeperk. Sonn het van 2017 tot 2024 die posisie beklee en is voorafgegaan deur prof. Laetitia van Dyk (2011 tot 2017), wyle prof. Russel Botman (2006 tot 2011), wyle dr. David Piedt (2001 tot 2006), wyle Jans Rautenbach (1999 tot 2001) en Nic Barrow (1994 tot 1999).

KKNK
Die direksie van Kunste Onbeperk is (v.l.n.r.): Johan Allers, Theresa Olivier, Christo van der Rheede (nuwe voorsitter), Mariné van Brakel, Crispin Sonn (uittredende voorsitter), Olga Wyngaard (visevoorsitter), Denver Moses, Charlene Lackay, Ismail Mahomed (uittredende direkteur) en Hugo Theart (uitvoerende hoof en artistieke direkteur). Afwesig: Cristal Peterson © Louise Mouton, Oudtshoorn Courant