So sê violis Annien Shaw, konsertmeester vir Messiah, wat op Vrydag 8 Desember om 18:00 in die Burgersentrum op Oudtshoorn te sien is. Shaw meen die Kaapstad Barokorkes (CTBO) is baie opgewonde om hierdie oratorium soos dit nog nooit vantevore gehoor of ervaar is nie, enig in sy soort, na Oudtshoorn te bring.
“Baie van ons het wonderlike herinneringe van Oudtshoorn uit ons studentedae, toe ons in Pops-konserte by die KKNK opgetree het. Dit gaan ’n nostalgiese reis wees. Ons is ook nuuskierig om te sien hoe ons barokinstrumente, waarvan verskeie dermsnare het, in die Klein Karoo se droëer klimaat gaan aanpas, want barokinstrumente is baie sensitief vir klimaat- en temperatuurveranderings.”
Alt-sanger Lente Louw, een van 12 soliste en ’n stigterslid van Lutesong Consort, wat op die verhoog by die CTBO aansluit, beskryf hierdie vorm van ensemble-sang as haar eerste liefde. “Om ’n ensemble-werk van hierdie omvang saam met sulke gerekende kollegas uit te voer, is ’n ongelooflik vreugde en voorreg. Die fantastiese emosionele trajek wat deur die fyn gebruik van tekste regdeur die Bybel geskep word, kan opreg waardeer word wanneer elke reël uit elke refrein met sorg en uitdrukking gesing word, soos wat Erik Dippenaar (klavesimbel en dirigent) van ons vereis. Dit voel daarna asof jy op ’n taamlike innerlike reis was en dít is wat ons hoop om met die gehore te deel, om hulle saam met ons op dieselfde reis te neem.”
Sopraan Lynelle Kenned sê Handel se Messiah is een van die mees bekende koorwerke en om aan hierdie welbekende projek saam met die CTBO en Lutesong Consort deel te neem is uniek, spesiaal en opwindend. “Verder sien ek ook daarna uit om met hierdie uitvoering na Oudtshoorn te reis waar ek al in die verlede saam met Erik Dippenaar en die CTBO by Klein Karoo Klassique opgetree het. Dit is ’n lieflike en bekende gehoor en opwindend om hierdie werk met hulle te deel. Die aspek van Messiah waarna ek die meeste uitsien, is om in die fantastiese koorwerke te deel. Om dit met só ’n uitsonderlike groep sangers op die verhoog te deel is absoluut ’n vroeë Kersgeskenk.”
Bekende Oostenrykse baroktrompetspelers Raphael Pouget en Julian Ritsch voltooi die ensemble. Pouget werk vir die derde keer saam met die CTBO en sê hy sien ook daarna uit om in Oudtshoorn se hitte op te tree. “Ek sien regtig uit na ons uitvoering op Oudtshoorn en dit is ekstra spesiaal vir my aangesien ek nog nooit vantevore Messiah op sulke warm dae opgevoer het nie.” Vir Ritsch is hierdie ’n eerste besoek aan Suid-Afrika. “Ek is oorweldig deur alles wat dié land het om te bied en sien daarna uit om op Oudtshoorn op te tree en baie nuwe mense te ontmoet”, sluit hy af.
Die 12 sangers van Lutesong Consort is Lynelle Kenned, Elsabé Richter & Louise Howlett (soprane), Lente Louw, Minette du Toit-Pearce & Marcelle Steinmetz (alte), Jason Atherton, Willem Bester & Levi Alexander (tenore) en Aubrey Lodewyk, Keaton Manwaring & Patrick Cordery (basse).
Die uitvoering van hierdie geliefde oratorium word deur die Mzansi Nasionale Filharmoniese Orkes, die KKNK en Klein Karoo Klassique ondersteun, en is op Vrydag 8 Desember om 18:00 by die Burgersentrum op Oudtshoorn te sien.
Kaartjies is aanlyn by Webtickets, of by Pick n Pay beskikbaar, met pryse vanaf R100 per kaartjie. Vir meer inligting, kontak die KKNK-kantoor by 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Die 28ste KKNK word van 23 tot 31 Maart 2024 op Oudtshoorn aangebied, met die 15de Klein Karoo Klassique wat van 9 tot 11 Augustus 2024 op Oudtshoorn plaasvind.
Foto’s: Repetisiefoto’s van Handel se Messiah wat Vrydag 8 Desember om 18:00 op Oudtshoorn aangebied word.