Volgende jaar se KKNK vind van Vrydag 23 tot Sondag 31 Maart 2024 in die hartjie van die Klein Karoo op Oudtshoorn plaas. Dié feesdatums sluit die skoolvakansie en Paasnaweek in.
Alle programvoorstelle van kunstenaars, musikante, kreatiewe skeppers en vervaardigers word verwelkom, waarna dit geëvalueer word deur ’n onafhanklike aanbevelingspaneel, in oorleg met die fees se evalueringskriteria. Hierdie kriteria maak voorsiening vir optredes in teaters, die buitelug, op musiekverhoë en in die strate van Oudtshoorn.
Slegs aanlyn voorstelle wat teen die sluitingsdatum van Vrydag 25 Augustus ingedien is, word oorweeg.
Drama en komedie is die kerndeel van die teaterprogram, met relevante Suid-Afrikaanse stories wat belangrike sosiale, maatskaplike en ekonomiese kwessies takel. ’n Verskeidenheid produksies word aanvaar om ’n gesonde balans tussen nis- en gewilde aanbiedings te verseker, waaronder plekspesifieke voorstelle wat die landskap van die Klein Karoo inkorporeer, asook voorstelle gemik op familievermaak, kindervermaak, jeugvermaak en jong volwassenes.
Alle musiekgenres word oorweeg, in besonder innoverende en weldeurdagte musiekproduksies wat uitstaande musikante en/of sangers inkorporeer. Die KKNK wil ook belê in musiekteaterproduksies wat politieke, sosiale en maatskaplike kommentaar lewer en stel veral belang in satiriese werk. Populêre en kontemporêre musiek wat op gesinne gemik is, word op die opelugverhoog in die feesterrein aangebied.
Lucky Pakkie bied ’n geleentheid vir jong én gevestigde kunstenaars om te eksperimenteer en meer konseptuele teaterervarings na die fees te bring. Opvoerings as deel van dié aanbod is slegs 15 minute lank, opgevoer in klein tydelike ruimtes met ongeveer 30 gehoorlede per vertoning. Alle genres word hier aangebied, van familievermaak tot meer uitdagende werk vir volwassenes.
’n Uitgebreide program van straatteater en -kuns word in Baron van Reedestraat en die feesterrein aangebied.
Voorstelle wat as aanvullende ervarings vir feesgangers kan dien, kan as Klein Karoo-ervarings ingesluit word. Hierdie ervarings inkorporeer die Klein Karoo en Oudtshoorn se natuurskoon, geskiedenis en gehalteprodukte. Ander aanvullende leefstylervarings wat onder meer kos, wyn, proeë, werksessies, toere, sport, natuurervarings en mode insluit word oorweeg.
Visuele kunsvoorleggings word in ’n aparte proses hanteer. Voorstelle kan gerig word aan Lizané Basson by lizane@kunste.org.za. Interessante voorstelle vir gespreksreekse, werksessies of interaktiewe programme kan aan Hugo Theart gestuur word by hugo@kunste.org.za. Produksievoorstelle wat geoormerk kan word vir feeste verder in die toekoms word ook aangemoeding, wat geleentheid bied vir langtermyn beplanning. Hierdie voorstelle vir 2025 en 2026 kan ook aan Theart gerig word.
Vir volledige programriglyne met meer inligting oor kriteria- en keuringsriglyne, teikenmark-inligting, ’n oorsig oor die KKNK se feesgangers, kontraktipes en ander belangrike inligting, besoek die KKNK se webblad by www.kknk.co.za.
Algemene navrae kan gerig word aan Lizané Basson by lizane@kunste.org.za of 044 203 8600. Vir meer inligting, kontak die KKNK per e-pos by info@kknk.co.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Fotos: Kunstenaars en kreatiewe skeppers en denkers het nog een week om programvoorstelle vir die 28ste KKNK in te dien. © Hans van der Veen