Program vir 28ste KKNK bied medisyne vir die siel

Goeie kuns, in al sy vorme en genres, laat die mens vir ’n wyle van die lewe se kwellinge vergeet. Kuns is medisyne vir die siel. 

Facebook
WhatsApp
Twitter
Email

Voeg daarby die natuurskoon en vars lug van die Klein Karoo en jy het die ideale plek om te herlaai. 

“By die KKNK wag daar van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart op Oudtshoorn voorwaar ’n kuur vir elke kwaal. Dié fees word in die Maart-skoolvakansie aangebied en eindig oor Paasnaweek. Dis ’n wegbreekkans vir die hele gesin met ’n program vir elkeen se smaak. Behalwe vir uitstaande drama, komedie, dans en visuele kuns, is daar ook leefstylervarings en gespreksreekse wat sorg vir heerlike kuier en polemiek. Die fees bied hope gratis en goedkoop vermaak, nie net in meer formele venues nie, maar ook in die strate van Oudtshoorn. Dis jou gesondheidskliniek vir algehele welstand!” Só sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK. 

KKNK

Die program vir die 28ste KKNK, geborg deur Absa, is Woensdag 24 Januarie tydens ’n geselligheid by Leopard’s Leap in Franschhoek bekendgestel. Kabous Meiring en Dean John Smith was aan stuur van sake, met uittreksels uit twee van dié fees se teaterhoogtepunte. 

Volgens John Tshabalala, uitvoerende hoof van Absa Private Wealth, is hulle verheug oor hulle voortgesette vennootskap as Hoofborg van die 28ste KKNK, ’n jarelange viering van kuns en kultuur op Oudtshoorn. “Ons ondersteun reeds vir dekades lank met trots hierdie geleentheid en is verheug om ons onwrikbare verbintenis tot die bevordering van die kunste in die dinamiese gemeenskap van Oudtshoorn te koester. Terwyl ons bymekaarkom om kreatiwiteit en kulturele rykdom te vier, vier ons ook die asemrowende natuurskoon en verkwikkende vars lug van die Klein Karoo. Ons deurlopende ondersteuning is ’n bewys van ons vertroue in die transformerende krag van die kunste en ons toewyding om die unieke gees van hierdie merkwaardige streek te bewaar.”

Vyf kunstenaars word in 2024 deur die KKNK vereer: Deon Meyer met die KKNK Afrikaans Onbeperk-prys vir literêre bydrae, Jana Cilliers met die KKNK-prys vir vertolking, Eldon van der Merwe met die KKNK-prys vir Jong Stem, Poem Mooney met die KKNK-prys vir Lewensbydrae tot Kuns en Kultuur en die visuele kunstenaar Colbert Mashile is die Feeskunstenaar. 

Deon Meyer en Coenie de Villiers keer ná hul sensasionele Karoo Suite-vertonings terug met Roem: ’n Musiekverhaal. Anrich Herbst, Eldon van der Merwe, Daneel van der Walt, Nelandi Boshoff, Mauritz Lotz & Blake Hellaby is op die verhoog, onder regie van Nicole Holm. 

Jana Cilliers deel in die drama Veelhoek – een van 27 feesdebute op die program – die verhoog met Ludwig Binge, onder regie van Marthinus Basson. Cilliers het ook die teks geskryf. Sandra Prinsloo en David Viviers is te sien in Henque Heymans se satire Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan. Prinsloo speel ook die hoofrol as Maria Callas in die bekroonde produksie van Terrence McNally se Master Class. Antoinette Kellermann en André Roothman is op die verhoog in Die stoele, ’n klassieke tragi-klug deur Eugène Ionesco, met regie, ontwerp en vertaling deur Basson. 

Bekroonde skrywer en dramaturg Willem Anker keer ná tien jaar terug met ’n nuwe toneelteks, Patmos. Tinarie van Wyk Loots, Marlo Minnaar, Eben Genis, René Cloete en Marelize Viljoen is op die verhoog te sien, met regie en ontwerp deur Jaco Bouwer. 

Ander debute op die toneelprogram sluit in: Bloedbande, ’n storie uit en oor Namakwaland met Lyntjie Jaars, Die begrafnisrede, ’n komedie met Wynand van Vollenstee; Lizz Meiring se komedie Die Van Vuurens vat vlam met Meiring, Cara Meiring & David Kuduntwane; Eg Kaaps: Salaam-stories met Ashraf Johaardien, Cheraé Halley & Matthew MacFarlane; David Viviers & Wessel Pretorius deel die verhoog in die komedie ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, ensomeer: Die ongewerwelde-trilogie; Monika, it’s me is ’n drama deur Klara van Wyk & Jenine Collocott, met Van Wyk op die verhoog; Kevin Smith, Reginald Hufkie & Donovan Pietersen is te sien in die drama Op die kruin van Shôdeville, onder regie van Herschelle Benjamin; Ouma is op pad met Margit Meyer-Rödenbeck & Coenraad Rall (klavier) en Des-Lee McKenzie se satire Vleis/Meat is ook te sien.  

Stand-up kry in 2024 ’n tuiste by die fees, met Kekkelkliniek wat ’n hoogtepunte uit dié aanbod is. In hierdie skaterlagvertoning is onder andere Alfred Adriaan, Stuart Taylor, Conrad Koch & Lindy Johnson op die verhoog. Komediante wat in solo-optredes te sien is, sluit in Ambrose Uren, Koch (en sy poppe), Dalin Oliver, KG Mokgadi, Mel die Storieverteller, Rob van Vuuren, Taylor, Yasseen Barnes, asook Johnson & Kate Pinchuck wat saam op die verhoog is. Ander gewilde satires sluit in Marianne Thamm se Vuisvoos, maar nog regop: Suid-Afrika 2024 en Mike van Graan se My Fellow South Africans, waarvoor Kim Blanché Adonis vir haar spel bekroon is met die Woordtrofee vir beste prestasie in ’n solovertoning by die Toyota US Woordfees in 2023.  

Van die musiekdebute sluit in: Stef Bos se terugkeer na die KKNK vir die eerste keer in meer as ’n dekade vir Bijna 30 jaar later; Zolani Mahola (The One Who Sings) & Dozi deel die verhoog in Die kort en die lank. In Blommetjie gedenk aan my is onder andere Anton Goosen, Sonja Herholdt, Zolani Mahola, Lise Swart, Schalk Joubert & Illimar Neitz te sien. Wouter van de Venter & Clinton Waring se Beste vriende sing Laurika is ’n viering van Laurika Rauch se musiek; Winand Grundling (orrel) & Johann Nel (verteller) is te sien in Aanskou die mens; CH2: Spanish Fire met kitaarduo Corneille Hutten & Christiaan Jacobsz; Jak de Priester se Hartkamer; Elzabé Zietsman & Tony Bentel is te sien in Vier Panado’s en ’n Chardonnay en Petronel Baard, Chanette Paul, Jan van Tonder & Alzanley is te sien in Tweeluik

Eldon van der Merwe is te sien in Roem: ’n Musiekverhaal en Fietsry vir dommies, ’n drama met teks deur Oudtshoorniet Tiffany Saterdaght, onder regie van Dean Balie. 

Die KKNK is ’n familiefees en die feesaanbod sluit ’n uitgebreide verskeidenheid van jeug- en familieteater in. Ken jy vir Dewie?  is ’n interaktiewe teaterervaring met regie deur Margit Meyer-Rödenbeck en teks deur Ilne Fourie, met onder meer Crystal Donna Roberts en Robert Hindley. Braam en die engel  is ’n multidissiplinêre en bekroonde drama vir die hele gesin met Joanie Combrink, De Klerk Oelofse, Rehane Abrahams, Marelize Viljoen, Timothy Isaacs & Shaun Oelf – in dié magiese verwerking van Marietjie de Jongh se gelyknamige jeugboek, met regie deur Nico Scheepers. Familievermaak het ’n nuwe tuiste by die Feesmark, waar ure se vermaak in die Klein KKNK-teater op kinders en ouers wag. Dié aanbod sluit onder andere Die rooi ballon met Craig Morris (wenner van ’n Silwer Ovation-prys by die Nasionale Kunstefees in 2023) en Casey Sewbaran in. ’n Ander hoogtepunt is Ons is hier!/On est là! met Sibusiso Khambule en Sjaka S. Septembir, ontwikkel deur ASSITEJ SA en ASSITEJ België se Letsema/Collaborate-projek. 

Uitstaande teaterproduksies van ander kunstefeeste is ook op die program ingesluit, waaronder Die vegetariër, ’n drama met Tinarie van Wyk Loots, Wilhelm van der Walt, Eben Genis & Melissa Myburgh, onder regie van Jaco Bouwer; Philip Rademeyer se drama Goed wat wag om te gebeur, met Antoinette Kellermann, Gideon Lombard & Emma Kotze; Routrip, Elzabé Zietsman se dramakomedie; Jefferson J. Dirks-Korkee se drama Rooilug, Lara Hattingh se solo-drama Byster  en die gewilde sketskomedie Die Francois Toerien Show +.

Ander kunstenaars wat by die KKNK op die planke te sien is, sluit in: Tobie Cronjé (Hans gee Herklaas horings), Nataniël (Nineveh Song), Frank Opperman (Reünie), Mathys Roets & Anna Davel (In konsert), Danie Niehaus & Germandt Geldenhuys (Drie van die bestes), Leslie Kleinsmith & Ramon Alexander (Kaapse kabaret), Amanda Strydom (Hoe ons voel & ’n Vuur gevang in glas), André Schwartz (Any Dream Will Do – My pad met Webber), Helenè Bester & Jannie Moolman (Nag in die Namib), Jakkie Louw & Charlize Berg (Jakkals en Berg), RAAF en Tollie Parton (Hoe om oor jouself te kom). 

Drie van die topproduksies uit die Universiteit Stellenbosch se Première Teaterfees in 2023 maak ’n draai in die Klein Karoo: Incarnations of Sand, ’n absurde teaterstuk; Su’walla Kassam, ’n klug met verskeie kinkels wanneer ’n paartjie uit verskillende gelowe op trou staan en The Old Man Who Thought He Had a Dog, ’n tragi-komedie, wat as wenner van die Première Teaterfees aangewys is.

Twee dansteaterproduksies is te sien, met Joburg Ballet wat vir die eerste keer by die KKNK optree in ’n opwindende trio van werke met een Suid-Afrikaanse première en twee wêreldpremières vir SCARCITY, terwyl Figure of 8 Dance Collective in Set in Motion die lewe se onverwagse draaie en ompaaie, asook die uitwerking daarvan op ons ondersoek.

Lucky Pakkie-teater keer terug na Baron van Reedestraat met kraakvars teaterkonsepte. Die inhoud is – nes die lucky packets van ouds – hoogs geheim. Elke Lucky Pakkie bestaan uit vier vertonings van 15 minute elk. 

Op die Feesmark-verhoog, ondersteun deur Huisgenoot, wag hope vermaak deur verskeie gunstelinge waaronder Early B, Kurt Darren, Juanita du Plessis, Spoegwolf, Elandré, Appel, Francois van Coke, Demi-Lee Moore, Jay, YoungstaCPT, Die Heuwels Fantasties, Karlien van Jaarsveld, Refentse, Die Piesangskille, Busiswa, Bobby van Jaarsveld, Sunset Sweatshop en Dodo Nyoka om maar ’n paar te noem. 

Die Feesmark is die hartklop van die fees en hier kan feesgangers vir ure wandel deur dié inkopieparadys se stalletjies. Die KKNK-winkel swaai sy deur oop in ’n nuwe area met meer en mooier aandenkings as in 2023. Smul aan die buffet van kos by die kosstalletjies. Proe deli-produkte, lekkernye en drinkgoed. Koel af by die kroeë op die terrein. Span uit en geniet die aanbod deur die dag en saans in die lugverkoelde Absa Kuierkamer, waaronder insiggewende gesprekke met bekendes. En raak ontslae van daardie laaste bietjie energie by die pretpark. Checkers bied vanjaar spesiale ervarings in die Feesmark aan, met verskeie verrassings wat op feesgangers wag.

Karoo Kaarte, die KKNK se veelbekroonde en grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram wat sedert 2021 op Oudtshoorn gestalte kry, betrek in 2024 Oudtshoorniete se stories en bied allerlei ervaringe dwarsdeur die fees en oor die dorp heen aan. Karoo Kaarte word vanjaar aangebied met die ondersteuning van die Jannie Mouton-stigting, ATKV, Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Wes-Kaapse Regering en die Oudtshoorn Munisipaliteit . 

’n Besonderse versameling kunsuitstallings, saamgestel deur kurator Dineke Orton is die tuiste van visuele kuns, die Prince Vintcent-gebou, te sien. ’n Uitstalling deur die feeskunstenaar van 2024 en ’n Absa-uitstalling word onder andere ingesluit. 

Verskeie gespreksreekse word in die Netwerk24-feeskafee aangebied, waaronder gesprekke oor brandpunte en belangrike landskwessies soos die 2024-verkiesing in Die Burger Praat Saam, onder leiding van Jody Hendricks. Die KKNK se Boekstories, onder leiding van Elna van der Merwe, bied daagliks insig in die prosesse en denkwyse van verskeie skrywers. Spesiale Netwerk24-onderhoude en gesprekke as deel van die aanlyn nuusplatform se tiende bestaansjaarviering word ook deur Mia Spies aangebied. 

Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is vanaf Donderdag 25 Januarie beskikbaar by Webtickets, of die KKNK se kantoor op Oudtshoorn. Kaartjies wat vooraf gekoop word, is goedkoper as kaartjies wat tydens die KKNK by die deure of hekke gekoop word. Vir verblyfbesprekings, besoek die KKNK se webblad. 

Meer inligting is beskikbaar op die KKNK se sosiale media, by www.kknk.co.za of kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337. 

Foto’s: Die program vir die 28ste KKNK, geborg deur Absa, is by Leopard’s Leap in Franschhoek bekendgestel. © Natalie Gabriels Photography