Twintig skrywers se tekste by agtste Teksmark te sien

Twintig skrywers het vanjaar die geleentheid om hul teks-idees tydens die agtste Teksmark by die Baxter-teater in Kaapstad aan voornemende beleggers voor te lê. 

Facebook
WhatsApp
Twitter
Email

Teksmark is ’n KKNK-projek, in samewerking met NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) en die Baxter-teater, en word van Woensdag 30 Augustus tot Vrydag 1 September in die Baxter se Golden Arrow Studio aangebied.  

“Ons sien geweldig uit daarna om nuwe teks-idees van opkomende én gevestigde skrywers by Teksmark te verwelkom en aan hulle ’n geleentheid tot moontlike verdere ontwikkeling van hulle idees te bied”, sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK. 

Theart sê verder daar is meer as 100 tekste ingedien vir oorweging, waarna die onafhanklike keuringspaneel bestaande uit Ilse Oppelt, Jody Abrahams, Mannie Manim, Saartjie Botha en Cornelia Faasen, uiteindelik 18 tekste gekies het om by die Baxter-teater voor te lê. 

Dié 18 tekste en hul skrywers is: Dryfhout deur Nell van der Merwe, Found deur Darryl Nel, Ken jy vir Dewie? deur Ilne Fourie, Khanya and Her Golden Dream deur Sibahle Mabaso, Kontrapunt deur Jason Jacobs & Devon Delmar, Mahlomola a Lockdown – An Unspoken Story of Covid-19 deur Ngwako Maifala, Martha deur Ilse van Niekerk & Albert Maritz, Moedswil en muitery deur Ingrid Winterbach, Ontbaar deur Philip Rademeyer, Please don’t call me Moffie deur Zubayr Charles, praat gou weer deur Kanya Viljoen, Punchlines deur Brent Palmer, Stoffel deur Elisha Zeeman-Knoesen, The Good White deur Mike van Graan, The Massacre at Mount Ursula deur Louis Viljoen, Tot ’n einde deur Ludwig Binge, Verloren deur Andi Colombo en Waar die wind ons waai deur Mikyall Harris. 

Elkeen van die skrywers kry by Teksmark ’n geleentheid om oor hul teks-idee te gesels en dit aan potensiële beleggers voor te lê. Daarna word ’n uittreksel van tien minute as leesteater opgevoer, waarna die vloer oopgestel word vir vrae en verdere bespreking van die teks tussen die skrywer, betrokkenes en die gehoor, gefasiliteer deur gewilde TV-aanbieder Kabous Meiring. 

Uittreksels word opgevoer deur 60 spelers, waaronder Ira Blanckenberg, Waldemar Schultz, Wessel Pretorius, Crystal Donna Roberts, Geon Nel, Ilse van Niekerk, Marlo Minnaar, Ludwig Binge, Veronique Jephtas, Oscar Peterson, Bianca Flanders, Mbulelo Grootboom, André Roothman, Rehane Abrahams, Nicole Holm, Faniswa Yisa, Qondiswa James en Zenobia Kloppers. 

Regie van die uittreksels word behartig deur 18 regisseurs, waaronder Albert Maritz, Margit Meyer-Rödenbeck, De Klerk Oelofse, Rafiek Mammon, Gideon Lombard, Lwanda Sindaphi, Llandi Beeslaar en Wolf Britz. 

“Dit bly verstommend om te sien hoeveel tekste jaarliks instroom vir Teksmark. Die lys van gevestigde en bekroonde skrywers en natuurlik nuwe talent, maak mens opnuut bewus van hoe belangrik ’n projek is waar die fokus op die teks en die woord val. Elke jaar oorrompel skrywers mens met die kwaliteit van die tekste en hulle idees – en dan bestaan daar geen meer twyfel daaroor dat hierdie projek belangrik en bowenal, noodsaaklik is nie”, sê Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi. 

Lara Foot, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxter-teatersentrum, beaam die belangrikheid van Teksmark en sê dié projek het oor die jare gegroei in sy pogings om jong kunstenaars, dramaturge en teatermakers te ondersteun. “Hulle het nou, meer as ooit, só ’n platform nodig waar hulle gekoester, gelei en aangemoedig word in die ontwikkeling van hul stories en tekste. Teksmark bied ’n platform vir al die skrywers om te speel.”

Die doel van Teksmark is om uiteindelik nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste te ontwikkel en aan alle Suid-Afrikaanse skrywers ’n geleentheid te bied om hul idees vir moontlike verdere ontwikkeling aan belanghebbendes in die teaterbedryf bekend te stel. Feeste, teaters, vervaardigers en ander beleggers onderhandel direk met skrywers om tekste moontlik verder te ontwikkel. 

Sedert die ontstaan van Teksmark in 2016, is 125 tekste ingesluit as deel van dié inisiatief, met 36 teks-idees wat in volskaalse produksies ontwikkel is, waarvan verskeie bekroon is met ’n rits toekennings en pryse. 

Bywoning van Teksmark by die Baxter-teatersentrum is gratis, maar dit is belangrik om vooraf op die KKNK se webblad te registreer vir sessies wat bygewoon word, aangesien spasie in die teater beperk is.  

Vir meer inligting oor Teksmark 2023 kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, telefonies by 044 203 8600 of via WhatsApp by 065 285 2337. 

Foto’s: ’n Reeks foto’s geneem tydens Teksmark 2022 waar verskeie tekste as leesteater by die Baxter-teatersentrum voorgelê is. © Nardus Engelbrecht