Verrassende teater wag by KKNK se Lucky Pakkie

’n Onverwagse mengelmoes van alternatiewe teater en talent, in hoogs geheime optredes van 15 minute elk. 

Facebook
WhatsApp
Twitter
Email

Dít is wat op feesgangers wag in hierdie jaar se Lucky Pakkie-aanbod by die 28ste KKNK, geborg deur Absa, van 23 tot 31 Maart op Oudtshoorn. 

“Lucky Pakkie-teater het iets vir almal se smaak. Dit werk nés die lucky packets waarmee jy grootgeword het – die inhoud is hoogs geheim. Ons het ver en wyd gesoek om ’n program van 12 Lucky Pakkies-optredes saam te stel, met elemente van drama, komedie, kabaret, sang, mimiek en ander verrassings”, sê Llandi Beeslaar, kurator van Lucky Pakkie. 

Volgens Beeslaar word drie verskillende Lucky Pakkies aangebied. Melkbaard is nie noodwendig kinderteater nie, maar word as gesinsvriendelik aangebied (daagliks 11:00), terwyl ouerbegeleiding vir Sagtebaard aanbeveel word (daagliks 14:00) en Hardebaard ’n ouderdomsbeperking van geen onder 16 het (daagliks 17:00). 

“Vir die kere wanneer jy op Oudtshoorn by die KKNK sit en nie anders kan as om te voel daar is ’n jeuk wat nog nie ordentlik gekrap is nie. Jy is in die mood vir iets buitengewoon, iets met ’n bietjie flavour, maar wil nie noodwendig commit tot ’n vertoning van 70 minute in ’n teater nie. Lucky Pakkie is die perfekte kuur vir daardie kwaal”, sê Beeslaar. 

Elke Lucky Pakkie bestaan uit vier, uiteenlopende vertonings van 15 minute elk. “As jy hou van die show, perfek! As jy nie daarvan hou nie, is dit nog steeds korter as om ’n schnitzel in die airfryer gaar te maak.

“Die punt is dat jy nie weet wat in elke Lucky Pakkie is nie. Ons opdrag aan die kunstenaars was eenvoudig: ‘Stel ’n vertoning van 15 minute saam waar jy wys hoe ’n optrede kan lyk wanneer dit nié probeer om formele, tradisionele teater te wees nie.’ Elke Lucky Pakkie-vertoning is iets wat jy beslis nie op die res van die program by die KKNK gaan sien nie. 

“So, kies jou vibe en vertrou ons met die res”, sluit Beeslaar af. 

Lucky Pakkie se kultuur-gekonsentreerde inspirasie (gebruik elke dag vir nege dae) word aangebied in Baron van Reedestraat voor die Spur. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, maar kan voor elke Lucky Pakkie by die tente gekoop word.  

KKNK 2024 word geborg deur Absa, Checkers, Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering. 

Kry die volledige feesprogram aanlyn by www.kknk.co.za en kaartjies by Webtickets. Vir meer inligting, hou die KKNK se sosiale media dop, besoek die webblad of kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337. 

Foto’s: Llandi Beeslaar is die kurator van die KKNK se Lucky Pakkie-aanbod, ’n reeks van alternatiewe teater en talent in hoogs geheime optredes van 15 minute elk.