‘Bul’ mis die spitsvondigheid van die donker komedie-genre

Terwyl die handelinge in Bul by tye oorgedramatiseerd voorkom, moet die waarde van wat uitgebeeld word, nie onderskat word nie.

Facebook
WhatsApp
Twitter
Email

Al ooit aan ’n kantoorruimte gedink as ’n oerwoud? Indien hierdie idee jou aangryp, sal jy Nico Scheepers se verwerking van Bul, oorspronklike teks deur Mike Bartlett, geniet.

Terwyl die handelinge in Bul by tye oorgedramatiseerd voorkom, moet die waarde van wat uitgebeeld word, nie onderskat word nie. Boeliegedrag en snedigheid is skynbaar, uit die perspektief van hierdie toneelstuk, amper instinktief vir mense. In Bul word survival of the fittest ’n stappie verder geneem, aangesien die “swakkeling” (Wynand Kotze as Thomas) geïdentifiseer word deur sy kollegas (René Cloete as Isabelle en Wian Taljaard as Tony) en hulle ’n aktiewe, voorbedagte rol speel daarin om hom af te knou en af te breek totdat hy geen ander keuse het as om te knak nie. Om nie eens te praat van hulle baas (Peggy Tunyiswa as Matangwa) wat, anders as wat ’n mens sou hoop, hierdie wangedrag beaam nie.

Hierdie stuk bied ’n interessante blik op die dierlike aard van die mens. Meermale word die karakters gelykgestel aan lede van die (groot-) katfamilie. Lees: opportunisties, geslepe en gewetenloos. ’n Metafoor wat wérk teen die agtergrond van hierdie Hobbesiaanse stuk.  

Temas soos seksuele teistering, die alewige najaag van sukses, paranoia rakende (potensiële) werksverlies en toksiese professionele verhoudinge word verken. Bul laat ’n mens wonder tot watter mate die algemene kantoorwerknemer bloot hulle werk onderhou omdat hulle die onbekende vrees, of omdat hulle dink daar is nie iets beters vir hulle beskore nie.

Die dialoog voel soms vervreemdend omdat dit deurgaans deurtrek is met vyandigheid en ongemaklike, bitsige opmerkings, en ek mis die spitsvondigheid waaraan die donker komedie-genre gekenmerk word. Nietemin verdien Kotze, Cloete, Taljaard en Tunyiswa ’n pluimpie vir hulle oortuigende spel.

Lees hier vir meer inligting: https://kknk.co.za/program/bul/

The Art Stories Incubator is enabled by PESP-3, BASA and the Department of Sport, Arts and Culture.