As die teater een ding is, is dit ’n plek waar dit okay voel om ware emosie te wys en te deel met sowel die gehoorlede wat rondom jou sit as die akteurs op die verhoog. Dis ’n oomblik om jou in te leef in ’n ander werklikheid; een wat jou dikwels diep tref.
Die moeder staan veral uit as ’n emosie-belaaide toneelstuk waarin jy jou sal verloor. Hierdie stuk (oorsprongteks The Mother deur Florian Zeller) gaan om verlies, rou en berou in die teerste sin van die woord.
Die geselskap, met Christiaan Olwagen wat die regie en vertaling onder hande geneem het, het ’n meesterstuk beet. Van die ikoniese Sandra Prinsloo (as hoofkarakter Anna), haar ewe-ikoniese medespeler Dawid Minnaar (Anna se man), tot die talentvolle Ludwig Binge (Anna se seun) en Ashley de Lange (die minnaar van beide seun en pa, onderskeidelik).
Wat die tegniese aspekte van Die moeder betref, is veral die videograaf (Charl Folscher), afwisselend teenwoordig op die stel, se close-up kameraskote wat teen die muur agter die spelers geprojekteer word, ’n hoogtepunt. Dit verleen aan hierdie toneelstuk ’n diepte wat die kyker laat wonder: Gebeur enige van die voorvalle wérklik of is ons die toeskouers van wat in ’n versteurde, miserabele moeder se gedagtes – en gewete – plaasvind?
Fantasties, uiters professioneel en ’n absolute moet-sien!
Vind hier uit of daar nog kaartjies beskikbaar is vir vertonings van 6–9 April: https://kknk.co.za/program/die-moeder/
The Art Stories Incubator is enabled by PESP-3, BASA and the Department of Sport, Arts and Culture.