Vanjaar het die KKNK se onafhanklike Kannapaneel al die ietse beleef, met meer as 100 produksies, waarvan meer as 50 in die Klein Karoo gedebuteer het.
Die Kanna-pryse erken jaarliks uitnemende artistieke bydrae by die KKNK en die Kanna-benoemings na afloop van die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is bekend.
Annie+Helen, ’n drama oor Helen Keller wat vanjaar by die KKNK op Oudtshoorn gedebuteer het, is vir tien Kannas benoem. Dié produksie is Wordsmith’s Theatre Factory (Hennie van Greunen en Pedro Kruger se produksiemaatskappy) se eerste stuk by die KKNK sedert 2017 en is onder meer vir beste debuutwerk en beste toneelaanbieding benoem. Die 13-jarige Judi Hattingh is benoem as beide beste vroulike speler in ’n hoofrol en beste opkomende kunstenaar of nuweling, met verskeie spelers (Cintaine Schutte, Stian Bam en Bianca Flanders), die stelontwerp (Rocco Pool), uitnemende literêre bydrae vir die nuutgeskepte teks en regie (Van Greunen) wat benoemings ontvang het.
Die debuutkomedie ‘KUNS’ is vir nege Kannas benoem, insluitend beste debuutwerk, beste toneelaanbieding en beste ensemble. Die teks deur die gevierde Franse skrywer Yasmina Reza is vertaal uit Frans na Afrikaans deur Naòmi Morgan, wat benoem is vir uitnemende literêre bydrae. Marthinus Basson is benoem vir beste regie, asook beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir sy stelontwerp en die akteurs Ludwig Binge, Wessel Pretorius en Wilhelm van der Walt is elkeen benoem vir beste manlike speler in ’n hoofrol.
Moedswil en muitery, ’n debuutsatire uit die pen van bekroonde skrywer Ingrid Winterbach, is ook benoem vir nege Kannas, waaronder beste debuutwerk, beste toneelaanbieding en beste ensemble. Winterbach is benoem vir uitnemende literêre bydrae vir haar nuutgeskrewe teks, Tinarie van Wyk Loots vir beste regie en die spelers (Albert Pretorius, Brendon Daniels, Dean John Smith en Nicole Holm) is elkeen benoem vir vertolkingpryse in die akteurskategorieë.


DieFigure of 8-dansgeselskap en Wessel Pretorius se interdissiplinêre debuutdansdrama Die een wat bly, met Grant van Ster, Shaun Oelf & Daneel van der Walt, is benoem vir ses Kannas. Neil Coppen en Mpume Mthombeni se Isidlamlilo/The Fire Eater, Wessel Pretorius se Ont- met Wian Taljaard en [INDISTINCT CHATTER], een van die topproduksies van die Universiteit Stellenbosch se Première Teaterfees met Angelique Filter, Merwe van Gent, Zara West, Vihann van Rooyen, Jurie Boshoff, Kym Mahundi, Khaya Manare & Frances van Rooyen is elk vir vier Kannas benoem.
Volgens Felicia Lesch, sameroeper van die Kannapaneel, was vol teaters, geesdriftige gehore en uitmuntende produksies aan die orde van die dag. “Feesgangers kon ’n verskeidenheid van aanbiedinge in alle dissiplines ervaar. Karoo Kaarte het nogmaals verras met ’n produksie oor die stories van, en konflikte onder, ‘queens’ oud en jonk.
“ ’n Jong Kannapaneel van skoolleerders het ’n terugkeer gemaak en hul het onder die toesig van twee Kannapaneellede die kinderteater beoordeel. Hul entoesiasme vir dié taak was aansteeklik en verfrissend. Die Kannapaneel het waardevolle insig uit die diversiteit van produksies en die kinderpaneel gekry,” sê Lesch.
’n Nuwe toevoeging tot die aanbod vanjaar was Blitsteater, ’n kombinasie van Lucky Pakkie en Uitkampteater van ouds, en hieroor sê Lesch: “Blitsteater het heelwat verrassings van talent en stories opgelewer, wat goed verpak was in kort stukke van 20 minute elk.”
“Daar was ’n rekordgetal aanbiedinge met komiese inhoud, asook stand-up deur bekende komediante wat gehore laat skater het. Die visuele kunsaanbod was divers en die program het verskeie aanbiedinge van vertoonkuns ingesluit. Die gees van die KKNK was duidelik in die strate, daar was gesprekke om die gees te vul en oorgenoeg kos vir die siel,” sluit Lesch af.
Vanjaar se onafhanklike Kannapaneel was Lesch (sameroeper), Nolan Africa, Amelda Brand, Schalk Joubert, Wayne Muller, Tracey Saunders en Fahiem Stellenboom. Op die kinderpaneel was 20 kinders tussen die ouderdomme van 6 en 13 jaar vanuit die breër Oudtshoorn-gemeenskap. Die Kannapaneel is ondersteun deur Laetitia Pople, Marguerite Robinson en Diane de Beer, wat die beste bydrae tot visuele kuns- en die Herrie-prys beoordeel het.
Die wenners word op Donderdag 15 Mei tydens ’n glansgeleentheid by Nasdak in Kaapstad aangekondig. ’n Spesiale paneelprys, ’n spesiale Kanna vir diens aan die KKNK en ’n Kanna vir uitsonderlike tegniese diens aan die KKNK word ook tydens die geleentheid aangekondig en oorhandig.
Vanjaar se KKNK, geborg deur Absa, is van 1 tot 6 April op Oudtshoorn aangebied, met ’n spesiale openingskonsert en aandmark op 31 Maart. KKNK 2025 is aangebied met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
Die 30ste KKNK word van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April 2026 op Oudtshoorn aangebied. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Die volledige lys van Kanna-benoemings is:
Beste opkomende kunstenaar of nuweling
- Joshwin Dyson (spel in Laaitie mettie biscuits)
- Judi Hattingh (spel in Annie+Helen)
- Merwe van Gent (spel in [INDISTINCT CHATTER] en SMIEG)
- Rylan Lemmetuis (optrede in beHOORNlik)
- Shannon Hendry (spel in Öh)
- Vihann van Rooyen (spel in en teks van [INDISTINCT CHATTER])
Beste visuele kunsaanbieding
- Attakwaland – Liza Grobler (kurator)
- Die stomme aarde – Henk Serfontein (kunstenaar)
- LANDscape[s]: Kunswerke van die MAPSA-versameling van kontemporêre kuns – Miné Kleinhans (kurator)
- Red Stone Hills – ReWOLusie en Liza Grobler
Herrie-prys vir innovasie
- Henk Serfontein en Hannah Loewenthal vir Aardmoeder: ’n Uitvoerende tekening
- Diek Grobler vir animasiekuns van die produksie, Die gevlerktes
- Toor l Bos – UJ Arts (kurator: Dineke Orton)
Beste ensemble
- Die een wat bly
- [INDISTINCT CHATTER]
- ‘KUNS’
- Moedswil en muitery
- SALT
Beste ontwerp en/of tegniese bydrae
- Floris Louw vir kostuumontwerp van Duif.
- Gideon Lombard vir stelontwerp van Die een wat bly
- Marthinus Basson vir stelontwerp van ‘KUNS’
- Nicolaas de Jongh vir stelontwerp van Kruispad, of die legende van die goue vis
- Rocco Pool vir stelontwerp van Annie+Helen
- Tina le Roux vir beligtingsontwerp van Isidlamlilo/The Fire Eater
Uitnemende literêre bydrae
- Hennie van Greunen – Annie+Helen (nuutgeskepte teks)
- Ingrid Winterbach – Moedswil en muitery (nuutgeskrewe teks)
- Naòmi Morgan – ‘KUNS’ (vertaling)
- Wessel Pretorius en geselskap – Die een wat bly (nuutgeskrewe teks)
Beste aanbieding: kontemporêre musiek
- 88
- Bach & Beatles
- Duif.
- Frieda van den Heever: Spoorsny
Beste aanbieding: musiekteater
- Amanda Strydom: The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder
- André Schwartz: Merry Krismis, Elvis
- Danie Reënwolf du Toit en Johan du Toit: Songs, stories en gedigte
- -LOOS
- Vincent: His Quest to Love and Be Loved
Beste aanbieding: toneel
- Annie+Helen
- Die een wat bly
- Isidlamlilo/The Fire Eater
- ‘KUNS’
- Moedswil en muitery
- Ont-
Beste aanbieding: Blitsteater
- Beste van alle tye
- Smak
- SMIEG
Beste aanbieding: kinderteater
- Grommels
- Liewe Heksie en die wals
- Middel/Middle
- Pampoenpit se groen gevoel
Beste aanbieding: komedie
- Beste van alle tye
- [INDISTINCT CHATTER]
- Joe Barber 25
- Magda Louw: ’n Les in kletterkunde
- Marc Eugene Lottering
- KG Mokgadi: Weighing In – The Aftermath
Beste debuutwerk
- Annie+Helen
- Die een wat bly
- ‘KUNS’
- Moedswil en muitery
- Ont-
Beste manlike speler in ’n ondersteunende rol
- Albert Pretorius – Moedswil en muitery
- Ben Albertyn – Speelgoed van Glas
- Brendon Daniels – Moedswil en muitery
- Dean John Smith – Moedswil en muitery
- Stian Bam – Annie+Helen
Beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol
- Bianca Flanders – Annie+Helen
- Nicole Holm – Moedswil en muitery
- Stephanie Baartman – Laaitie mettie biscuits
- Veronique Jephtas – Sonde met die spoke
Beste manlike speler in ’n hoofrol
- Eben Genis – Kruispad, of die legende van die goue vis
- Frank Opperman – Stinkhout
- Ludwig Binge – ‘KUNS’
- Wessel Pretorius – ‘KUNS’
- Wian Taljaard – Ont-
- Wilhelm van der Walt – Stinkhout
- Wilhelm van der Walt – ‘KUNS’
Beste vroulike speler in ’n hoofrol
- Anna-Mart van der Merwe – Speelgoed van glas
- Cintaine Schutte – Annie+Helen
- Judi Hattingh – Annie+Helen
- Mpume Mthombeni – Isidlamlilo/The Fire Eater
- René Cloete – Wag!
Beste regie
- Hennie van Greunen – Annie+Helen
- Marthinus Basson – ‘KUNS’
- Neil Coppen – Isidlamlilo/The Fire Eater
- Tinarie van Wyk Loots – Moedswil en muitery
- Wessel Pretorius – Ont-
- Wessel Pretorius en geselskap – Die een wat bly