Kanna-wenners van KKNK 2025 aangekondig

Vanjaar se Kanna-wenners van die KKNK, geborg deur Absa, is op Donderdag 15 Mei aangekondig.

Facebook
WhatsApp
Twitter
Email

Vanjaar se Kanna-wenners van die KKNK, geborg deur Absa, is op Donderdag 15 Mei aangekondig.

Die Kannas is tydens ’n glansgeleentheid by NASDAK in Kaapstad oorhandig. Lee-Ann van Rooi, een van die KKNK se vereerdes in 2025 (Kunste Onbeperk Kruispunt-prys), was die aanbieder.

‘KUNS’ , uit die pen van gevierde Franse skrywer Yasmina Reza, is met vyf Kannas bekroon. Dié debuutkomedie is aangewys as beste debuutwerk, beste toneelaanbieding en beste ensemble. Naòmi Morgan se vertaling van die teks uit Frans na Afrikaans het aan haar die Kanna vir beste uitnemende literêre bydrae besorg en Wilhelm van die Walt het die Kanna vir beste manlike speler in ’n hoofrol ontvang, vir sy spel in beide ‘KUNS’ en die drama Stinkhout.

Isidlamlilo/The Fire Eater is met drie Kannas bekroon. Neil Coppen is aangewys as beste regisseur, Mpume Mthombeni as beste vroulike speler in ’n hoofrol en Tina le Roux vir beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir haar beligtingsontwerp van dié drama.

Annie+Helen is met twee Kannas bekroon. Bianca Flanders is aangewys as beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol en Judi Hattingh as beste opkomende kunstenaar of nuweling vir haar spel in dié drama oor Helen Keller.

Henk Serfontein, die KKNK se feeskunstenaar vir 2025, is ook met twee Kannas bekroon. Sy uitstalling, Die stomme aarde, is aangewys as beste visuele kunsaanbieding, terwyl Aardmoeder: ’n Uitvoerende tekening saam met danser Hannah Loewenthal, die Herrie-prys vir innovasie ontvang het.

Die Charl du Plessis Trio se Bach & Beatles is aangewys as beste kontemporêre musiekaanbieding en Vincent: His Quest to Love and Be Loved met Daniel Anderson en Paul Ferreira op klavier is aangewys as beste musiekteateraanbieding.

Blitsteater was ’n nuwe toevoeging op die KKNK se program, met ’n kombinasie van Lucky Pakkie en Uitkampteater van ouds in kort stukke van 20-minute elk, en Sandi Dlangalala en Ilana Cilliers se Smak is bekroon as beste Blitsteater-aanbieding. Marc Lottering se stand-up-vertoning Marc Eugene Lottering  is bekroon met die Kanna vir beste komedie-aanbieding. Brendon Daniels is bekroon met die Kanna vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol vir sy spel in Moedswil en muitery.

Grommels met Angelique Filter en Robert Hindley is bekroon met die Kanna vir beste kinderteater-aanbieding. Hierdie kategorie is beoordeel deur ’n paneel van 20 laerskoolleerders tussen die ouderdomme van 6 en 13 jaar vanuit die breër Oudtshoorn-gemeenskap, onder toesig van twee Kannapaneellede.

Twee spesiale Kannas is oorhandig. Die Kannapaneel het ’n spesiale prys vir die KKNK se Karoo Kaarte-projek toegeken vir die verrassende, veerkragtige en relevante wyse waarop hulle vanjaar Oudtshoorn-stories vertel het, met teaterproduksies, kunsuitstallings, publikasies en ’n argief wat hulle skep. Die projek het in 2021 begin en is vanjaar moontlik gemaak met die ondersteuning van die Jannie Mouton-stigting, die National Lotteries Commission (NLC), die Het Jan Marais Nationale Fonds en die Wes Kaapse departement van kultuursake en sport. Tegnikus Vaughn Walberer het die spesiale Kanna vir tegniese diens aan die KKNK ontvang. Hy is al die afgelope 12 jaar by die KKNK betrokke as klankingenieur en was voor dit vir sewe jaar deel van die span by ’n feesverhoog.

Elke wenner het ’n spesiale collage-kunswerk uit die KKNK se bekroonde Karoo Kaarte-projek ontvang. Hierdie kunswerke is geskep deur Oudtshoorn-kunstenaars, saamgestel uit Oudtshoorn-stories wat nie voorheen gedokumenteer is nie. Dit vorm nou deel van ’n lewende argief, wat sedert 2021 deur dié projek geskep is.

Kanna-pryse is geborg deur Absa, die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, ATKV, Castle Lager, Exclusive Books, Glenwood Travel, Rauten Trust, Ton & Anet Vosloo, Franklin & Joan Sonn, Crispin & Lisa Sonn, asook Wicus Pretorius. Die wyn vir die geleentheid is geborg deur Checkers en Cape Fynbos Wines & Spirits.

Vanjaar se onafhanklike Kannapaneel was Felicia Lesch (sameroeper), Nolan Africa, Amelda Brand, Schalk Joubert, Wayne Muller, Tracey Saunders en Fahiem Stellenboom. Die Kannapaneel is ondersteun deur Laetitia Pople, Marguerite Robinson en Diane de Beer, wat die beste bydrae tot visuele kuns- en die Herrie-prys beoordeel het.

Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is van 1 tot 6 April op Oudtshoorn aangebied, met ’n spesiale openingskonsert en aandmark op 31 Maart. KKNK 2025 is aangebied met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering. 

In 2026 word die 30ste KKNK van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April op Oudtshoorn aangebied. Programaansoeke vir dié fees kan vanaf Vrydag 23 Mei aanlyn ingedien word by kknk.co.za.

Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337. 

Die volledige lys Kanna-wenners is: 

Beste visuele kunsaanbieding, geborg deur Absa

Die stomme aarde – Henk Serfontein (kunstenaar)

Beste debuutwerk, geborg deur Het Jan Marais Nationale Fonds

‘KUNS’

Beste aanbieding: toneel, geborg deur NATi

‘KUNS’

Beste aanbieding: komedie, geborg deur Checkers

Marc Eugene Lottering

Beste aanbieding: kontemporêre musiek, geborg deur Castle Lager

Bach & Beatles

Beste aanbieding: musiekteater

Vincent: His Quest to Love and Be Loved           

Beste aanbieding: Blitsteater, geborg deur Glenwood Travel

Smak

Beste aanbieding: kinderteater, geborg deur die ATKV

Grommels

Beste ensemble, geborg deur Wicus Pretorius

‘KUNS’

Beste ontwerp en/of tegniese bydrae, geborg deur Rauten Trust

Tina le Roux vir beligtingsontwerp van Isidlamlilo/The Fire Eater

Uitnemende literêre bydrae, geborg deur Exclusive Books

Naòmi Morgan – ‘KUNS’  (vertaling)

Beste regie

Neil Coppen – Isidlamlilo/The Fire Eater

Beste manlike speler in ’n hoofrol, geborg deur Franklin en Joan Sonn

Wilhelm van der Walt – Stinkhout en ‘KUNS’

Beste vroulike speler in ’n hoofrol, geborg deur Franklin en Joan Sonn

Mpume Mthombeni – Isidlamlilo/The Fire Eater             

Beste manlike speler in ’n ondersteunende rol, geborg deur Crispin en Lisa Sonn

Brendon Daniels – Moedswil en muitery

Beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol, geborg deur Crispin en Lisa Sonn

Bianca Flanders – Annie+Helen

Beste opkomende kunstenaar of nuweling, geborg deur Ton en Anet Vosloo

Judi Hattingh (spel in Annie+Helen)

Herrie-prys vir innovasie

Henk Serfontein en Hannah Loewenthal vir Aardmoeder: ’n Uitvoerende tekening

Spesiale Kannapaneel-prys

Karoo Kaarte

Spesiale Kanna vir tegniese diens aan die KKNK Vaughn Walberer