Die beste manier om die visuele kuns-aanbod by KKNK te verken, is om by een van die rondleidings aan te sluit wat tot 9 April om 11:00–12:30 aangebied word. Sodoende sien jy die meeste van die kuns en word in die rigting van verdere installasies gewys. Dit is gratis om al die uitstallings te sien.
Die feeskurator Dineke van der Walt, wat ook Aardklop se visuele kunsprogram behartig, het ’n goeie werk gedoen om ’n diverse aanbod by hierdie jaar se KKNK aan te bied. Sy het met ander kurators saamgewerk wat aan die afsonderlike vertonings gewerk het.
Vir die eerste en moontlik die laaste keer word Suid-Afrika se aanbod wat by die Venesiese Biënnale 2022 gewys het, op eie bodem vertoon. Die kurator van hierdie uitstalling is Amé Bell, ook van Johannesburg soos Van der Walt. Lebohang Kganye se werk word nie meer so dikwels in Suid-Afrika gewys nie, en dit is goed om haar werk langsaan Phumulani Ntuli te sien. Ntuli se videowerk is veral besonders, en betrek landskapskilders wie se werk gebruik is om die vergrype van kolonialisme en apartheidkultureel te rugsteun. Al is ek nie ’n groot aanhanger van Roger Ballen se werk nie – ek dink hy misbruik ander se ellende om sy eie beroep te bevorder – is sy ligbokse as deel van die Biënnale-uitstalling geslaagd en visueel-treffend.
Liza Grobler, vanjaar se feeskunstenaar, se werk is speelvol, kleurvol en aangenaam. Sy bly die afgelope twee jaar in Oudtshoorn en gaan op ’n diepere wyse om met Oudtshoorn en dié se inwoners.
Kurator Donavan Mynhardt se eklektiese samestelling van kleipotte sal diegene wat hou van die kunsproses fassineer, veral met Mynhardt se diepgaande kennis van die verskillende tegniese maniere wat verskeie pottebakkers van gebruik maak. Hy ken sy storie!
Johan Stegmann se werk in sy solo-uitstalling, maar ook as mede-kurator van Is ons nog ’n ding saam met die intellektueel-nuuskierige Lawrence Lemaoana (Mary Sibande se partner), is gepas vir ’n Afrikaanse fees waar kwessies van identiteit, diversiteit en inklusiwiteit keer op keer opgehaal word. Stegmann se kunsboer-persona, ondersteun deur sy deurdagte kunswerke wat die Afrikanerpsige dissekteer, is van hoë gehalte en sal selfs nie-kunskenners fassineer.
Die veelsydige Karoo Kaarte-projek se visuele kuns-aanbieding, Qokolela (Xhosa vir “versamel” of “saamstel”), speel ’n baie waardevolle rol om visuele kunspraktyk in die streek te ontwikkel en te koester.
Kurator MC Roodt se postuum-retrospektief van Dumisani Mabaso se werke in die William Humphreys-kunsgalery en die Universiteit van Johannesburg-galery is insiggewend van ’n belangrike figuur in die Suid-Afrikaanse proteskunsgeskiedenis.
Daar is heelwat ander galery- en kunsaanbiedings om te gaan verken. Bederf jouself, dit is van hoë gehalte!
Kry meer inligting op die feesprogram: https://kknk.co.za/feesprogram/
The Art Stories Incubator is enabled by PESP-3, BASA and the Department of Sport, Arts and Culture.