Mutton Hour bied die perfekte geleentheid om vir ’n oomblik te ontsnap aan die alledaagse.
Ek was nog nooit iemand wat daarvan hou as lede van die gehoor tydens ‘n produksie of optrede uitgelig word deur die opvoerder nie. Gewoonlik is dit dan vir my ’n geval van sit in afwagting en spanning totdat die vertoning verby is. Dit was egter nie die geval tydens Mutton hour nie. Alhoewel Cintaine Schutte heel dikwels met die gehoorlede te make het, vind dit plaas op so ’n gemaklike wyse, in so ’n ontspanne omgewing, dat ’n mens wíl deel wees en jy wíl betrek word.
Hierdie speelse produksie is volgeprop met spontane, impulsiewe energie, fantastiese storievertelling en sommer net lawwighede vir ’n lekker-kyk-ervaring. Wat veral uitstaan in hierdie stuk, buiten Schutte en Wilhelm van der Walt se entoesiastiese spel, is die visuele aanbod aan die hand van Jemma Kahn se interpretasie van die Japannese storieverteltegniek, kamishibai. Dit vat my terug na toe ek as kind vir die eerste keer na ’n Storieman-kasset geluister het en saam kon volg in die gepaardgaande boekie.
Die omskrywing van dié stuk lui: “Kort stories oor liefde, verlies, krokodille en katte”, en terwyl dit mag klink of sommige van hierdie temas dalk nie by ander pas nie, word die balans tussen chaos en gestruktureerde vertelling goed gehandhaaf.
As jy ’n behoefte het daaraan om te ontspan en iets ligs in te neem, sonder die politieke en ander kommentaar wat vanjaar in soveel produksies geopper word, sal jy beslis van Mutton hour hou. Dis die perfekte afsluiting vir ’n aksie-belaaide en uitdagende week.
Lees meer: https://kknk.co.za/en/programme/mutton-hour/