Agt tekste uit KKNK se Teksmark in 2024 by ander feeste te sien

Altesaam agt tekste uit die KKNK se Teksmark is in 2024 by ander feeste op die planke te sien.

Facebook
WhatsApp
Twitter
Email

Altesaam agt tekste uit die KKNK se Teksmark is in 2024 by ander feeste op die planke te sien.

Teksmark is ’n teksontwikkelingsinisiatief wat aan gesoute én aspirant teaterskrywers die geleentheid bied om lewe te gee aan teatertekste of -idees wat nog nie op die verhoog te sien was nie. Uittreksels uit tekste word hier as leesteater opgevoer, waarna skrywers in gesprek met die gehoor tree. 

Teks-idees vir vanjaar se Teksmark kan tot Maandag 1 Julie om middernag op die KKNK se webblad ingedien word.

Sedert die ontstaan van Teksmark in 2016 is 43 teks-idees tot volskaalse produksies ontwikkel, waarvan verskeie reeds bekroon is. Teaterliefhebbers kan in 2024 verskeie produksies by feeste regoor die land sien:

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees

Donderdag 27 tot Sondag 30 Junie 2024 in Nelspruit

Vyf nuutgeskrewe teatertekste is op Innibos se teaterprogram te sien. Louw Venter se drama-komedie Albatros en Pierre-André Viviers se drama Forte debuteer beide by Innibos. Henque Heymans se drama Op die Hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan was ’n teatertreffer by vanjaar se KKNK en Suidoosterfees en is ook by Innibos te sien. Henriëtta Gryffenberg se tragikomedie 1 (een) is op pad Nelspruit toe, asook Obett Motaung se satire A street taxi named Desiree.

Vrystaat Kunstefees

Dinsdag 2 tot Saterdag 6 Julie 2024 in Bloemfontein

Sibahle Mabaso se drama Khanya and her Golden Dream debuteer as deel van die Vrystaat Kunstefees se Vrynge. Henriëtta Gryffenberg se tragikomedie 1 (een) en Henque Heymans se drama Op die Hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan is ook hier te sien.

Momentum Beleggings Aardklop

Dinsdag 24 tot Sondag 29 September 2024 op Potchefstroom

Christo Davids se drama Laaitie mettie biscuits debuteer by Momentum Beleggings Aardklop. Pierre-André Viviers se drama Forte, Henque Heymans se drama Op die Hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan en Ilne Fourie se interaktiewe drama Ken jy vir Dewie? is ook op Potchefstroom te sien.

Vroeër vanjaar by die Suidoosterfees

Vrydag 26 April tot Woensdag 1 Mei 2024 in Kaapstad

Ilne Fourie se interaktiewe drama Ken jy vir Dewie? en Henque Heymans se drama Op die Hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan was reeds vroeër vanjaar by die Suidoosterfees in Kaapstad op die planke.

Vroeër vanjaar by die KKNK

Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart 2024 op Oudtshoorn

Ilne Fourie se interaktiewe drama Ken jy vir Dewie? en Henque Heymans se drama Op die Hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan het by die 28ste KKNK op Oudtshoorn gedebuteer.

Teksmark is ’n KKNK-projek, in samewerking met NATi, die Baxter-teatersentrum en die Universiteit van Johannesburg