Hierdie vyf word vanjaar deur KKNK vereer

’n Legendariese aktrise, ’n internasionaal-erkende skrywer, ’n jong stem wat ál harder praat, ’n man wat diep spore in die Klein Karoo getrap het en ’n kunstenaar met Suid-Afrika in sy bloed. 

Facebook
WhatsApp
Twitter
Email

By vanjaar se KKNK word erkenning gegee aan Jana Cilliers, Deon Meyer, Eldon van der Merwe, Poem Mooney en die feeskunstenaar Colbert Mashile. Die 28ste fees word van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart op Oudtshoorn aangebied. 

Die aktrise Jana Cilliers ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking en sê hierdie eerbewys is soveel meer spesiaal omdat sy vanjaar op die KKNK is met ’n stuk wat sy geskryf het. “Jy kan nie speel wat nie geskryf is nie,” sê sy. 

Die stuk is Veelhoek, ’n gesprek tussen Cilliers en haar neef Barnard Gilliland, die belowende digter wat sestig jaar gelede op 24-jarige ouderdom in ’n motorongeluk oorlede is. 

Cilliers, intelligent, sag van geaardheid en tydloos-mooi, sê sy is sku om te praat oor hoe haar werk waardeer word. “Dis ’n vraag wat ons onsself deurentyd moet vra: Wie dien jy? Vir my moet die werk die praatwerk doen. Teater is ’n lewende oomblik en die gehoor is net so deel daarvan. Hierdie verering van die KKNK, wat al so lank ’n bydrae maak om die kunste lewendig hou, is ook ’n verering van teater se bestaansreg.” 

Deon Meyer ontvang vanjaar die KKNK Afrikaans Onbeperk-prys vir literêre bydrae. Hierdie prys is ’n geweldige eer en het my onkant gevang. En dis nie skyn-nederigheid nie. Om vereer te word vir iets wat vir jou so lekker is om te doen, voel amper verkeerd,” sê hy.

In 2018 het Coenie de Villiers Meyer omgepraat om deel te word van die produksie Karoo Suite. Karoo Suite II: Karoonagte het gevolg en was soos sy voorloper ’n reuse-sukses onder gehore. “Toe Coenie dus sê ons moet saam werk aan ’n musiekblyspel, het dit my 15 sekondes geneem om ja te sê.”

Die musiekblyspel, Roem, debuteer by die KKNK en het onder meer Anrich Herbst, Daneel van der Walt, Eldon van der Merwe en die nuweling Nelandi Boshoff in die rolverdeling.

“Dis ’n droom wat ek gehad het sedert ek Tommy se klankbaan gehoor het toe ek 19 was,” sê Deon. “Dit het soveel jare geneem vir Coenie om hierdie droom van my waar te maak.” 

Eldon van der Merwe word vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir jong stem. Hy was 12 jaar oud toe hy ’n rol in ’n verhoogproduksie van Fiela se kind gespeel het en ná skool het hy drama by Northlink College studeer. Rolle in reekse soos Arendsvlei en Ouboet en Wors het gevolg, asook werk vir die verhoog in onder meer Fietsry vir dommies wat vanjaar op die KKNK-program is. Die veelsydige Van der Merwe is ook te sien in die musiekblyspel Roem

Die prys vir jong stem is vir hom ’n groot voorreg. “Hierdie kind van Piketberg,” sê Van der Merwe asof hy dit self nie kan glo nie. “Ek haal my hoed af vir organisasies soos Kunste Onbeperk en NATi wat belê in die kunste. Ek dra hierdie prys op aan alle jong mense. Mag hulle ook die kanse kry wat ek gekry het.” 

Die legendariese storieverteller en skrywer Poem Mooney ontvang die KKNK-prys vir lewensbydrae tot kuns en kultuur. Boeke soos Kringe om die maan, Dit klink soos ’n klok en Stories uit Lap, sy boek oor Prins Albert, het al uit sy pen verskyn en hy is die stamhoof van die Attakwa Khoisan-organisasie wat hy in 2000 by die Wêreldberaad van Inheemse Volkere in Switserland verteenwoordig het. 

As hy een ding as hoogtepunt in sy lewe van 81 jaar moet uitsonder, is dit dat hy Kairos, ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes, in Oudtshoorn begin het. Later het Eljada, ’n sentrum vir intellektueel gestremde volwassenes, en Kairos saamgesmelt. “Dit is die grootste oomblik in my lewe,” sê hy. 

Mooney se liefde vir Afrikaans is duidelik in alles wat hy doen en sê. “As jy gebind is aan ’n taal, het jy ’n plek; is jy geknoop aan jou land. Die KKNK is ook so ’n knoop wat van die begin ’n invloed op ons gemeenskap gehad het. Nie net op Oudtshoorn nie, maar ook van suid na noord. Hoeveel feeste het nie daarna begin nie?” 

Hy sal graag onthou wil word vir sy betrokkenheid in die gemeenskap. “Ek wil nooit in enige ander land woon nie. Ons moet positief bly. As jy positief is, kan jy voortgaan.”  Mooney stel sy nuwe boek, Waaraan dink poëte?, by die KKNK bekend en sy stories word vertoon in ’n spesiale openbare geleentheid, Die staaltjiemeester

Colbert Mashile is die Feeskunstenaar. Hy het as kind enige moontlike oppervlak gebruik om op te teken en ná skool in Bosbokrand in Mpumalanga is hy Pretoria toe om publieke administrasie te studeer. Maar in die Jakarandastad het die jong Mashile vir die eerste keer kunsgalerye ontdek en net geweet: Dít is wat ek wil doen; ek wil ’n kunstenaar word. 

Sy pad het hom eers na die Johannesburg Kunsstigting geneem en daarna ’n graad in skone kunste aan die Universiteit van die Witwatersrand. 

“My jeug het beslis ’n invloed op my werk,” sê Mashile wat ’n ateljee in Johannesburg het, maar in Hoedspruit in Mpumalanga woon. “Ons het nie boeke, TV of elektrisiteit gehad nie. Al wat ons gehad het, was radio en die stories waarna ons in die aande geluister het. Baie van hierdie stories was gegrond op volksverhale en my verbeelding is daarmee gevorm.” 

Wat kan feesgangers van die uitstalling by die KKNK verwag? “Dit is ’n diverse versameling wat werk uit verskillende tye in my lewe insluit. Daar is ook nuwe werk wat ek vir die fees maak. Van die werk mag dalk nie soos van my ander werk lyk nie, maar dit is juis daardie diversiteit waarvan ek hou.” 

KKNK 2024 word geborg deur Absa, Checkers, Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering. 

Kry die volledige feesprogram aanlyn by www.kknk.co.za en kaartjies by Webtickets. Vir meer inligting, hou die KKNK se sosiale media dop, besoek die webblad of kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337. 

Foto’s aangeheg: ’n Legendariese aktrise, ’n internasionaal-erkende skrywer, ’n jong stem wat al harder praat, ’n man wat diep spore in die Klein Karoo getrap het en ’n kunstenaar met Suid-Afrika in sy bloed word vanjaar deur die KKNK vereer.