Die 28ste KKNK word van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart op Oudtshoorn aangebied en die Feesmark, oftewel die feesterrein, bied daagliks van vroegoggend tot laataand ure se pret, vermaak en samesyn vir die hele gesin. Daar is hope om te sien, te hoor, te beleef, te proe, te ruik en te ervaar – die Feesmark bied beslis ’n kuur vir elke kwaal.
Op die Feesmark-verhoog, ondersteun deur Huisgenoot, word musiek deur van Suid-Afrika se voorste musikante daagliks gehoor, met verskeie sangers wat in 2024 vir die eerste keer by die KKNK op die verhoog te sien is. Hierdie lys sluit in Riaan Benade (29 Maart 21:00), Samantha Leonard (29 Maart 18:00), Die Piesangskille (26 Maart 18:00), Chris Steyn (30 Maart 16:30), Sunset Sweatshop (30 Maart 18:00), Dodo Nyoka (27 Maart 19:30), Lisie Basson (23 Maart 16:30), Congo Cowboys (24 Maart 16:30), die gewilde KFM-omroeper Brandon Leigh met sy Big Mix (28 Maart 21:00), Busiswa (28 Maart 22:30), Bruin Biskuit (30 Maart 13:30), Marissa (29 Maart 15:00) en Jonathan Rubain (31 Maart 15:00).
Onder die ander hoogtepunte op dié verhoog tel optredes deur Elandré (23 Maart 19:30), Die Heuwels Fantasties (23 Maart 21:00), Brendan Peyper (24 Maart 18:00), Ricus Nel (24 Maart 19:30), Appel (24 Maart 21:00), Kurt Darren (25 Maart 15:00), Karlien van Jaarsveld (25 Maart 18:00), Early B (25 Maart 19:30), Spoegwolf (26 Maart 19:30), Juanita du Plessis (27 Maart 21:00), Refentse (28 Maart 16:30), Bobby van Jaarsveld (28 Maart 18:00), Demi Lee Moore (29 Maart 19:30), Francois van Coke (30 Maart 19:30), YoungstaCPT (30 Maart 21:00) en vele meer.
Familieteater en -vermaak kry in 2024 ’n nuwe tuiste in die Feesmark by die Klein KKNK-teater, ondersteun deur die ATKV, waar ure se teatervermaak op kinders en hul ouers wag. In hierdie spesiale, goed toegeruste teatertent word kinderteaterproduksies, boekvoorlesings, poppekas, speletjies en meer aangebied. Toegang tot die teaterproduksies is gratis vir Feesmark-kaartjiehouers, maar plek in die teater is beperk. Produksies as deel van hierdie aanbod sluit onder andere die Silwer Ovation-prysbekroonde Die rooi ballon, Kosblik met leerders van Laerskool Durbanville, Rondomtalie met ondermeer Anna Davel en Dinosourusse kan nie lees nie in.
Vir smulpape en markievrate bied die stalletjies se inkopieparadys baie om te sien en dié aanboed word versterk deur die KKNK-winkel wat sy deur in ’n nuwe area oopswaai met meer en mooier aandenkings as in 2023. ’n Buffet van kos wag by die hope kosstalletjies en deliprodukte, lekkernye en drinkgoed kan ook tussendeur geproe en geniet word. Lafenis teen die Oudtshoorn-hitte wag by die kroeë op die terrein en feesgangers kan ook uitspan by die lugverkoelde Absa Kuierkamer, waar die immergewilde Hannes van Wyk in gesprek tree met bekendes. Dié oase bied ook hope geleenthede om intieme optredes met verskeie kunstenaars te sien.
Nog ’n opwindende nuwe toevoeging tot die Feesmark-aanbod is die Checkers Liplekker-teater, waar Checkers feesgangers se ervaring van kuns, bobaas-kos en lekker saam kuier selfs beter en beter gaan maak. Kosskrywer Herman Lensing en sy bekende vriende gaan hier hul kookgeheime verklap en wanneer die hongerpyne begin pla, kan daar gesmul word aan heerlike eetgoed by die Checkers-kosstalletjies.
En om van daardie laaste bietjie energie ontslae te raak, maak ’n draai by die aksiebelaaide pretpark.
Die Feesmark word ingerig in die area rondom die De Jager-sportsentrum in Voortrekkerweg. Dagkaartjies is beskikbaar vanaf R80 per dag vir volwassenes en kaartjies vir kinders tussen 7 en 13 jaar kos slegs R30. Toegang vir kinders jonger as 7 met ouerbegeleiding is gratis. ’n Spesiale kaartjie vir pensionarisse is ook by die KKNK se kantoor te koop. ’n Feeskaartjie bied toegang vir al nege dae, perfek vir diegene wat nie ’n oomblik van die aksie wil misloop nie.
KKNK 2024 word geborg deur Absa, Checkers, Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
Kry die volledige feesprogram aanlyn by www.kknk.co.za en kaartjies by Webtickets. Vir meer inligting, hou die KKNK se sosiale media dop, besoek die webblad of kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Foto’s:
- Riaan Benadé en Dodo Nyoka tel onder ’n reeks sangers wat in 2024 vir die eerste by die KKNK op die verhoog te sien is.
- Early B, Spoegwolf, Juanita du Plessis en vele meer is ook tussen 23 en 31 Maart by die KKNK se Feesmark-verhoog te sien.
- Familieteater en -vermaak kry ’n nuwe tuiste in die Feesmark by die Klein KKNK-teater, ondersteun deur die ATKV, waar ure se teatervermaak op kinders en hul ouers wag.