Grobler woon reeds meer as drie jaar op Oudtshoorn en is welbekend met die KKNK se gehore en aktiwiteite. In 2023 was sy die KKNK se feeskunstenaar en haar uitstalling, Inkommers, laatkommers & laatlammers, asook haar Droom-installasie in samewerking met die Oudtshoorn ReWOLusie, het aan haar die Kanna vir beste visuele kunsaanbieding besorg. Sy was ook in 2022 die eerste kurator van visuele kuns tydens Klein Karoo Klassique.
Sy neem die leisels oor by dr. Dineke Orton, wat dié rol vir die KKNK vanaf 2020 tot 2024 vertolk het.
“Liza is ’n merkwaardige kunstenaar en uitsonderlike kurator. Dit is ’n verdere lekkerte dat sy in die KKNK se tuisdorp, Oudtshoorn, gesetel is. ’n Opwindende aanslag tot haar werk is dat sy inspirasie uit die streek put en dat dit ’n rol in die samestelling van die visuele kunsaanbod by die fees speel. Sy het ’n wonderlike sin vir samewerking en ’n vermoë om ander kunstenaars te inspireer. Ons is opgewonde om oor die volgende drie jaar die pad met haar as kurator te stap en om haar visie vir die kunste by die KKNK te sien uitspeel,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van dié fees.
Grobler sê dat sy baie opgewonde is vir die geleentheid om die visuele kunsprogram van die KKNK vir die volgende drie jaar saam te stel. “Ek wil eerstens ’n aanbieding skep wat elke deelnemende visuele kunstenaar se spesifieke behoeftes en proses in ag neem, sodat elkeen vrylik kan skep binne ’n oorhoofse tema. Sodoende kan ’n enkele werk in gesprek tree met elke ander werk en word dit hopelik ’n landskap van visuele geselsies.”
Vir haar is dit belangrik dat die tentoonstelling in geheel gerig is vanuit die Karoo, wat nie beteken dat dit slegs streekspesifiek is nie, maar dat die Karooruimte die spil is waarom alles draai. “Dit is ’n ruimte vol natuurskoon, stories en wonderwerke. Die Karoo is dus die muse, maar die deelnemers is van regoor die land, met selfs ’n paar internasionale bydraes.”
“Tweedens moet die aanbod vir die toeskouer ’n tipe ontdekkingsreis wees, wat hulle met ’n mate van verwondering laat. Dit is nie net nodig dat die aanbiedings tot ’n wye verskeidenheid feesgangers spreek nie, maar ook tot plaaslike inwoners. Dit is belangrik dat daar monumentale en ernstige werke is wat mens tot nadenke spreek, maar ook sakpas werk, kleurvolle werk en bydraes van nuwe stemme. My mikpunt is om die uitleg en hiërargie van materiale ’n bietjie om te keer, maar sonder om kwaliteit in te boet.”
Die veelbekroonde kunstenaar Henk Serfontein is aangewys as die KKNK se feeskunstenaar vir 2025. Feesgangers by die KKNK kan sy kunswerke sien as deel van ’n solo-uitstalling getiteld, Die stomme aarde.
Verder sê Grobler dat daar wonderlike gemeenskapsprojekte in en om die Karoo is en dat daar ’n sterk teenwoordigheid daarvan in haar visuele kunsprogram te sien gaan wees. “Juis om hierdie rede is Henk en die wonderlik Bloekomboomprojek, in samewerking met Hannah Loewenthal, die natuurlike keuse vir hierdie avontuur,” sluit sy af.
Grobler het reeds as kurator opgetree vir verskeie medium tot klein uitstallings en is uitgenooi na die Oosterse Internasionale Kunsbiënnaal in Bangladesj wat in 2025 plaasvind. Haar uitstallings sluit solo-uitstallings in Suid-Afrika, Finland en België in, asook verskeie internasionale kunsbyeenkomste, plekspesifieke projekte en groepuitstallings. Sy word verteenwoordig deur Everard Read Galleries in Kaapstad, Johannesburg, Franschhoek en Londen.
Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, word van Dinsdag 1 tot Sondag 6 April 2025 op Oudtshoorn aangebied. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Foto’s: Liza Grobler is die KKNK se nuwe kurator van visuele kuns. Foto’s geneem deur Hans van der Veen