Meer as 100 nuwe teksvoorstelle is vir vanjaar se negende Teksmark ontvang, waarvan 15 vir Teksmark by die Baxter-teater in Kaapstad gekies is.
Hier word skrywers se teks-idees op Woensdag 4 en Donderdag 5 September as leesteater in die Baxter-teater se Concert Hall aan voornemende beleggers in die teaterbedryf voorgelê. Teksmark is ’n KKNK-projek, in samewerking met NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief), die Baxter-teater, die ATKV en Het Jan Marais Nationale Fonds.
Teksvoorstelle is deur ’n onafhanklike keuringspaneel oorweeg, waarna 15 tekste vir Teksmark by die Baxter-teater gekies is.
Dié tekste en hul skrywers is: Cucina e Devertiti deur Ilne Fourie, Die repetisie deur Rachelle Greeff, Ematyeni deur Siphenathi Siqwayi, Familieportret deur William Oosthuizen, Fiekie & Tasneem deur Jean-Pierre Lesch, Gebakte salm en ’n waldorfslaai deur Paula Fourie, Hamlet/Speenvark deur Tinarie van Wyk Loots, Impoxo deur Molupi Lepeli, Jasper se planeet deur Wessel Pretorius, Meeting Murphy deur Gavin Werner, Meire en Pinkie deur Dianne du Toit Albertze, Stones deur Ntsikayomzi Benya, The Salt Lesson deur Sibuyiselo Dywili, Trienkie Swarts maak rooibos deur Sylvia Vollenhoven & Basil Appollis en Volkome … mens deur Anton Treurnich.
Teksmark se doel is om aan beide gevestigde en opkomende skrywers die geleentheid te bied om hulle idees vir nuwe teatertekste aan moontlike beleggers in die teaterbedryf voor te lê vir moontlike ontwikkeling.
Elkeen van die skrywers kry by Teksmark ’n geleentheid om oor hul teks-idee te gesels en dit aan potensiële beleggers voor te lê. Daarna word ’n uittreksel van tien minute as leesteater opgevoer, waarna die vloer oopgestel word vir vrae en verdere bespreking van die teks tussen die skrywer, betrokkenes en die gehoor.
Uittreksels word opgevoer deur 42 spelers, waaronder Dean Balie, Dustin Beck, Ludwig Binge, Ira Blanckenberg, Susanne Beyers, Emma Kotzé, Elton Landrew, Olga Leonard, Lindokuhle Melaphi, Nosiphiwo Ndabeni, Hunter Plaatjies, Waldemar Schultz, Jennifer Steyn, Daneel van der Walt, June van Merch, Chris van Niekerk, Ilse van Niekerk, Janelle Visagie, David Viviers en Gavin Werner .
Regie van die uittreksels word behartig deur 15 regisseurs, waaronder Basil Appollis, Sibuyiselo Dywili, Albert Maritz, Euodia Samson, Wessel Pretorius, Darryl Spijkers, Hennie van Greunen en Tinarie van Wyk Loots.
Verteenwoordigers van feeste, teaters, vervaardigers en ander beleggers kan hier direk met skrywers onderhandel vir moontlike verdere ontwikkeling van die teks.
Teksmark is in 2016 vir die eerste keer aangebied. Dié projek het uit die staanspoor daarop gefokus om aan skrywers ’n geleentheid te bied om hul teks-idees voor te lê, met die oog op moontlike ondersteuning om dit verder te ontwikkel en uiteindelik as volwaardige produksie op die planke te bring.
Oor die afgelope nege jaar is 156 teksidees, in verskeie amptelike landstale, by Teksmark aangebied. In totaal is 43 tekste tot volskaalse produksies ontwikkel. Ontwikkelde produksies en tekste spog ook oor die jare met verskeie gesogte pryse.
Almal is welkom om Teksmark by die Baxter-teatersentrum by te woon. Bywoning is gratis, maar dit is belangrik om vooraf op die KKNK se webblad te registreer. Om te registreer, klik hier.
Die tweede Teksmark Joburg word op Donderdag 24 Oktober en Vrydag 25 Oktober by die Universiteit van Johannesburg aangebied. Meer inligting hieroor word later bekendgemaak. Vir meer inligting oor Teksmark 2024 kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, telefonies by 044 203 8600 of via WhatsApp by 065 285 2337.